Wanbetaling van salarisse by vyf munisipaliteite in die Noord-Kaap is die jongste bewys van voortdurende finansiële wanbestuur op munisipale vlak.
Finansiële wanbestuur by 11 munisipaliteite in die provinsie was onlangs in die kollig toe die Nasionale Tesourie aangekondig het dat billikheidsdeelbetalings aan dié munisipaliteite teruggehou sal word in ‘n poging om “fiskale dissipline te skep en te verseker dat openbare geld behoorlik bestuur word.”
Al vyf Noord-Kaapse munisipaliteite wat onlangs gesukkel het om hul werknemers se salarisse te betaal, is deel van dié 11 waar billikheidsdeelbetalings weerhou is.
LEES OOK: Northern Cape municipalities: Slight progress amid deepening crisis
Die plaaslike munisipaliteite van Kamiesberg, Kai !Garib, Renosterberg en Thembelihle het glo gesukkel om hul werknemers se salarisse vir Julie vanjaar te betaal, terwyl Magareng slegs hul salarisse vir Junie kon betaal ná die Frances Baard-distriksmunisipaliteit ‘n reddingsboei voorsien het.
Gizella Opperman, DA-LPW en Noord-Kaapse woordvoerder oor samewerkende regering, sê in ‘n verklaring dat die Demokratiese Alliansie (DA) in die provinsie ‘n gesamentelike gesprek met belanghebbendes versoek om voortslepende finansiële chaos op munisipale vlak te ondersoek.
“Permanente oplossings moet vir hierdie uitdagings gevind word,” sê Opperman.
‘Toepassing van wetgewing maak verskil’
Finansiële wanbestuur op munisipale vlak het reeds gelei tot begrotings wat nie ordentlik befonds is nie, agterstallige betalings aan pensioenfondse en hemelhoë skuld aan diensverskaffers soos Eskom en die waterrade. Verwysend na die terughou van billikheidsdeelbetaling sê Opperman drastiese optrede moes geneem word “om die staatskoffers te beskerm en verdere verswakking van munisipale geldsake te voorkom”.
LEES OOK: Multiple arrests at Kamiesberg Municipality over fraud and money laundering charges
Versuim van die nasionale regering om hierdie wesenlike fiskale risiko’s in ag te neem, wat skynbaar deur provinsiale en munisipale leierskap misgekyk word, sou verdere skade aan die plaaslike ekonomie berokken het, sê Opperman.
Opperman sê voorts die party soek insae in die vlak van nakoming aan nasionale voorwaardes, betalingsooreenkomste wat met krediteure gesluit is, en maatreëls wat geneem word om ‘n herhaling hiervan te voorkom.
“Ons let daarop dat Kamiesberg, Kai !Garib en Renosterberg na verwagting die oorblywende billikheidsdeelbetalings sal ontvang met bewys van betaling aan of betalingsooreenkomste met krediteure voorsien kan word. Dat nakoming moontlik was ná die Nasionale Tesourie ferm standpunt ingeneem het, bewys dat groter toepassing van munisipale wetgewing wel ‘n groot verskil kan maak.”
LEES OOK: Treasury suspends transfers to 69 municipalities over financial mismanagement





