Die Kai !Garib-plaaslike munisipaliteit is in ’n vryval, met ’n skuldlas wat R1 miljard oorskry terwyl die jongste Ouditeur-Generaal se forensiese verslag ’n prentjie van sistemiese finansiële ineenstorting skets.
Terwyl die munisipaliteit in rooi syfers verdrink, sit inwoners van dorpe soos Kakamas, Keimoes en Kenhardt letterlik sonder water.
Só berig Liezl Human van GroundUp in hul jongste artikel oor die beleërde munisipaliteit. GroundUp is ’n onafhanklike Suid-Afrikaanse nuusagentskap sonder winsoogmerk (NPO) wat hoofsaaklik fokus op maatskaplike geregtigheid, menseregte en die daaglikse uitdagings van kwesbare gemeenskappe.

Volgens die jongste data van die Ouditeur-Generaal vir die 2024-’25-boekjaar, het Kai !Garib ’n gekwalifiseerde ouditmening met bevindinge ontvang, ’n voortsetting van die vorige jaar se swak prestasie.
Die Ouditeur-Generaal se ontleding van die munisipaliteit se finansiële gesondheid toon die entiteit funksioneer met ’n reuse-tekort en sy laste oorskry sy bates verreweg.
Vir die jaar wat in Junie 2025 geëindig het, het die munisipaliteit se ongemagtigde uitgawes R212 miljoen beloop, terwyl vrugtelose en verkwiste uitgawes tot R38 miljoen opgeskiet het. Ondanks die finansiële krisis, het die munisipaliteit meer as R13,6 miljoen aan finansiële konsultante bestee, sonder dat dit die gehalte van finansiële bestuur wesenlik verbeter het.
Blou- en Groendruppel-tellings onhutsend
Die impak van fiskale wanbestuur word direk deur inwoners gevoel.
GroundUp berig die Bloudruppel-telling vir watergehalte van 71% in 2014 het tot 16% in 2023 gedaal. Al 16 waterbehandelingsaanlegte in die distrik word as hoë- of kritiese risiko beskou.
André Smith, ’n inwoner van Kakamas, sê die waterdruk is so laag dat ’n emmer nie eens vol word in die tyd wat dit neem om dorp toe en terug te stap nie. Hy kla ook dat die water wat wel uit die krane kom, dikwels “vuil” is of te veel chloor bevat.
Die riool-krisis is selfs meer onthutsend. Kai !Garib se Groendruppel-telling het tot 0% in 2024 gedaal. Rou riool vloei tans vanuit die Kakamas-stelsel in die Oranjerivier in, wat volgens kundiges ’n ernstige openbare gesondheidsgevaar inhou.
In ’n poging om die krisis te hanteer, bestee die munisipaliteit gemiddeld R1,5 miljoen per maand aan private kontrakteurs om water met vragmotors aan te ry. In die 2024-boekjaar alleen het die koste meer as R20 miljoen beloop. Die munisipale bestuurder, Obakeng Isaacs, het erken die uitgawe is “buitensporig”, maar sê personeeltekorte en stukkende voertuie kniehalter die munisipaliteit.
Munisipaliteit effektief ‘insolvent’
Die situasie is so ernstig dat die Nasionale Tesourie onlangs aangekondig het dat hulle die billikeoordragtoelae (equitable share grants) aan Kai !Garib en 68 ander munisipaliteite sal vries om fiskale dissipline af te dwing.
Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het ook voorgestel die munisipaliteit word onder administrasie geplaas omdat dit effektief insolvent is.
In ʼn verklaring wat die munisipaliteit in Junie uitgereik is, erken hulle die ernstige “frustrasies van inwoners rakende watergehalte, dienslewering en finansiële bestuur”, maar beklemtoon dat daar reeds beduidende werk onderneem word om hierdie jarelange uitdagings te pak.
Volgens die munisipaliteit word daar gewerk aan ‘n gestruktureerde ondersteunings- en ingrypingsplan in samewerking met provinsiale en nasionale departemente.
‘Ingrypings’ vind plaas
Wat die waterkrisis betref, voer die munisipaliteit aan hulle is besig met ‘n reeks ingrypings, insluitend die opgradering van water- en rioolsuiweringswerke, die rehabilitasie van boorgate en die instandhouding van pompstasies. Hul tegniese spanne moniteer die watergehalte deurlopend en voorvalle van verkleurde water ondersoek.
Die munisipaliteit sê lae inkomste-invordering is een van die grootste struikelblokke vir dienslewering.
Om dit op te los, het hulle ‘n nuwe skuldinvorderings-strategie ingestel waar rekeninge wat ouer as 90 dae is, aan prokureurs oorhandig word en slim watermeters geïnstalleer word om fakturering te verbeter.
Die munisipaliteit verwerp ook bewerings dat hul verkrygingsprosesse nie aan die wet voldoen nie en hou vol alle aankope geskied ingevolge die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA).
Vordering is glo reeds gemaak met die aankoop van nuwe vullisverwyderingstrokke. Planne vir elektriese instandhouding, om die betroubaarheid van waterinfrastruktuur te verbeter, is reeds voltooi.
Die munisipale bestuur voer aan hulle is verbind tot deursigtigheid en skakel deurlopend met gemeenskaps-aksiegroepe om uitdagings met feitelike inligting op te los.
LEES OOK: Kai !Garib gekap oor ‘kritiese toestand’ weens dienste wat ineenstort






You must be logged in to post a comment.