Keimoes se waterwiel
Kobus Pool wys waar die plaveisel herstel moet word. FOTO: Verskaf

Keimoes se bekende waterwiel in die hoofstraat is onlangs tot volle glorie herstel nadat AfriForum se Keimoes-tak weer ingegryp het.

Die waterwiel is in 1978 tot ‘n nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Nie net is dit ‘n toeriste-aantreklikheid nie, maar ook onontbeerlike deel van die dorp se geskiedenis.

Kobus Pool en Isaac Manda herstel die plaveisel. FOTO: Verskaf

Dit was egter erg verwaarloos nadat die Kai !Garib-plaaslike munisipaliteit glo die afgelope 30 maande weining tot geen instandhouding daar gedoen het nie. Werner Strauss, distrikskoördineerder van dié organisasie in die Noord-Kaap, sê herstelwerk aan en om die waterwiel het vanaf 7 tot 13 Mei geduur.

Rondom die waterwiel was die plaveisel ingesak en die waterpyp na die dam is voorheen deur die munisipaliteit op agt verskillende plekke gelas – van dié laswerk is met binneband en draad gedoen. Die bak waarin die wiel sy water stort, was deurgeroes en die dam het ernstige krake gehad waardeur water deurgespoel en stene laat inval het. Dit het tot gevolg gehad dat mense nie behoorlik om die dam van die waterwiel kon beweeg nie.

LEES OOK: Keimoes se waterwiel terug op sy plek

Boonop was die pyp vanaf die waterwiel tot by die dam verstop wat veroorsaak het dat die dam leeggestaan en verder gebars het.

Kobus Pool, lid van die Keimoes-tak, en Isaac Manda, ’n dagloner, het die herstelwerk aangepak. Die dam is herstel, alle krake reggemaak en die waterbak is herstel en met twee lae seëlaar oorgeverf. Die pyp is vervang tot binne-in die dam en die kanaalwal is herstel en opgebou.

Nuwe stene is bekom en die plaveisel is netjies herstel. Die wiel stort nou weer water in die waterbak sonder enige lekkasies. Water vloei behoorlik deur tot in die dammetjie sonder om oor te spoel of te lek. Lucky Beukes, ’n helper, het gehelp om die gras te sny en omliggende bome te snoei. Vier vragte gras, takke en vullis is hierna met ’n trekker-sleepwa verwyder.

In vroeg 2024 het die Keimoes-tak ook ingegryp toe die waterwiel in die kanaal afgesak het weens foutiewe rollaers en ‘n deel van die as wat ingegee het. Van die vinne aan die wiel moes ook herstel word.

“Die waterwiel is nou weer funksioneel, en lyk netjies en versorg vir toeriste en die gemeenskap,” sê Strauss.

Kobus Pool hard aan die werk om die plaveisel te herstel. FOTO: Verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article