Menswaardigheid afgebreek deur versuim om emmertoilette leeg te maak

Gregory Taylor en Julia Selobogo
Gregory Taylor, gemeenskapsleier van Santa Centre en Mahala Park in Kimberley, by Julia Selobogo (75).

KIMBERLEY – Ná ‘n maand waarin emmers nie leeggemaak word nie, krioel dit van wurms en vlieë, en om van die emmers se inhoud ontslae te raak, is geen eenvoudige saak nie.

Gemeenskapslede van wyk 13 in Santa Centre en Mahala Park in Kimberley wat steeds van die emmertoiletstelsel gebruik moet maak, moet die afgelope weke weereens met dié onhigiëniese toestand saamleef omdat dié emmers of “balies” vir bykans ‘n maand reeds nie deur die Sol Plaatje-munisipaliteit leeggemaak word nie.

Leegmaak van die emmers is veronderstel om weekliks te gebeur, maar wanneer weke verbygaan sonder dat dié diens gelewer word, het inwoners een van drie opsies.

Een opsie is om iemand R20 of R30 te betaal om die emmer se inhoud in die veld oorkant die besige Barkleyweg te gaan weggooi. Ja, sê hulle, dit is verkeerd maar wat moet ons doen en waar moet ons met dit heen?

Die ander opsie is om by die inwoners wie werkende spoeltoilette het, te gaan aanklop om ‘n draai te loop. Dit is ongemaklik, vertel hulle, want elke huis het sy eie gesin met eie behoeftes.

Julia Selobogo (75) wie se emmer ook ongeveer ‘n maand laas leeggemaak is, is broos en sukkel om te loop. Die afgelope tyd moes sy in koue en reën straatop sukkel na bure om ‘n toilet te gebruik. Ook die 78-jarige Attie Brandt wat met sy mobiliteit sukkel, moet ‘n ver ent stap om ‘n toilet by ander inwoners te gebruik.

Nog ‘n opsie is om oor Barkleyweg die veld in te stap om daar die nood te verlig. Behalwe dat dit uiters ongemaklik en onhigiënies is, is dit gevaarlik, veral vir vroue en meisies.

Menswaardigheid afgebreek

“My hart breek vir ons grootmense. Ek kan dit nie net so los nie.” Só sê Gregory Taylor, ‘n gemeenskapsleier wat namens inwoners van Santa Centre en Mahala Park praat. “Ons menswaardigheid word erg hierdeur afgebreek deurdat die Sol Plaatje-munisipaliteit tot ‘n maand neem om die emmers leeg te maak.”

Attie Brandt (78), een van die bejaarde inwoners wat met mobiliteit sukkel, maar ver moet loop om ‘n toilet te gebruik. FOTO: Helena Barnard

Om dit direk by die munisipaliteit of die wyksraadslid aan te meld, val op dowe ore, vertel inwoners.

“Ons kry diep swaar,” sê nog een.

Van die inwoners wat die emmerstelsel gebruik, bly in sinkhuise. Die gerief van steenhuise het hulle ná baie jare nog nie beleef nie. Hoe dit werk dat steenhuise rondom hulle gebou word terwyl sommiges oënskynlik oorgesien word, verstaan hulle nie.

LEES OOK: Swak diens bly kwel

Steenhuise nie noodwendig geriefliker nie

Van diegene wat wel in steenhuise bly wat rondom 2024 in gebruik geneem is, het dit ook nie maklik nie.

Met die afteken van die huise, hoewel foute toe reeds identifiseer kon word, was daar die vrees dat indien hulle dit nie aanvaar nie, dit aan iemand anders gegee sal word.

Só was daar by van die huise van dag een af ‘n fout met die rioolstelsel en kan die toilette nie die inhoud wegspoel nie. Van die huise se bedrading is nie afgehandel nie, krane is nie gekoppel nie, deure pas nie in die kosyne nie, en ná skaars twee jaar lek dakke en is plafonne daardeur beskadig.

“Dit is omdat die geld vir die huise geëet is en nie gebruik is om die huise goed klaar te maak nie,” sê hulle.

‘n Gevolg van die foutiewe rioolstelsel by van die huise is ‘n permanente stroom water wat deur van die strate vloei. Om dit uit hul erwe te hou, maak van die inwoners afvoerslote wat tot onmin onder mekaar lei.

Grondwet beskryf veilige en higiëniese sanitasie as mensereg

Toegang tot veilige en higiëniese sanitasie is ‘n mensereg volgens die Grondwet. Dit dra tot verbeterde openbare gesondheid, waardigheid en ‘n skoon omgewing by. Ongeag daarvan dat die Suid-Afrikaanse Menseregte­kommissie in 2014 gesê het die emmerstelsel moet uitgeroei word, maak duisende huishoudings nog hiervan gebruik en word dit selfs plek-plek van nuuts af opgerig.

Water vloei permanent in die straat, soos in vele ander, weens foutiewe rioolstelsels en lekkende koppelstukke. FOTO’S: Helena Barnard

In die departement van water en sanitasie se National Sanitation Integrated Plan van Januarie 2025 word gemeld dat die gebruik van emmertoilette reeds uitgeroei moes wees. Volgens dié verslag gebruik nagenoeg 11 740 huishoudings in die Noord-Kaap steeds die emmerstelsel, met 14 765 huishoudings wat geen sanitêre dienste het nie.

Boonop, in die Nasionale Ontwikkelingsplan is bepaal dat alle Suid-Afrikaners teen 2030 toegang tot voldoende en billike sanitasie en higiëne moet hê. Ontlasting in die oopte moet beëindig wees, met spesiale aandag aan die behoeftes van vroue, meisies en diegene in kwesbare situasies.

‘n Persoon wat in Santa Centre en Mahala Park grootgeword het, sê: “My hele lewe het hier omgegaan en niks het beter geraak nie. Ons lewe net in gemors in.”

“Ons is nou regtig moeg om so te lewe. Besluit ons om die buckets na die raadslid se huis toe te vat of die hoofpad toe te maak hieroor word ons as barbare gesien,” sê Taylor.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article