Dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, sê hy sal regstellend optree nadat ‘n verdoemende verslag van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) aan hom oorhandig is; ‘n verslag wat bevind dienslewering in die Noord-Kaap is stelselmatig besig om ineen te stort.
Dit lei tot grootskaalse skending van inwoners se basiese menseregte.
Dr. Henk Boshoff, voltydse kommissaris van die MRK, het die verslag op 22 April by ‘n amptelike geleentheid aan Saul oorhandig.
Die verslag volg ná ‘n omvattende ondersoek wat in Oktober 2025 begin is weens talle klagtes oor munisipale verval.
‘n Somber prentjie van sistemiese mislukking, swak finansiële bestuur en ‘n tekort aan vaardighede in munisipaliteite word geskets.
Een van die belangrikste aanbevelings is dat Saul ‘n rampverklaring moet doen oor die krisis met rioolstortings en swak sanitasie in die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley.
Die MRK se bevindinge toon talle diensleweringsmislukkings wat nie aan ‘n enkele oorsaak toegeskryf kan word nie. Dit spruit uit ‘n kombinasie van swak oorsig, geldelike nood en institusionele onbevoegdheid.
LEES OOK: Riool-ramp by Kamfersdam dwing Transnet tot reddingsplan van miljoene rande
Van die 26 plaaslike munisipaliteite het 20 al die wetlike drempel vir formele provinsiale ingryping ingevolge artikel 139 van die Grondwet bereik.
Luidens die verslag leef inwoners in onmenslike onwaardige toestande, waar hulle water uit besmette riviere moet haal en aan aanhoudende rou rioolstortings blootgestel word.
Geen enkele munisipaliteit in die provinsie “kon die gesogte Bloudruppel-status vir watergehalte” behaal nie.
Munisipaliteite verkeer in ernstige geldelike nood, met ‘n gemiddelde tydperk van 566 dae om krediteure te betaal.
‘Kwessies is ernstig’
In antwoord sê Saul hy neem kennis van die MRK se verslag oor dienslewering in die Noord-Kaap.
“Die kwessies is ernstig en direk aan die grondwetlike plig van die regering gekoppel om waardigheid en basiese dienste te verseker.”
In ‘n onlangse hofuitspraak is bevind die MRK se voorskrifte en aanbevelings is nie vrywillig nie.
As die MRK ‘n bevinding van menseregteskendings maak en regstellende stappe voorskryf, kan die betrokke staatsinstelling dit nie ignoreer nie.
Die MRK het tande soortgelyk aan dié van die Openbare Beskermer. Indien ‘n regering nie die aanbevelings volg nie, moet hy rasionale, wettige redes as bewyse aanvoer.
Saul sê die Grondwethof het die regstatus van MRK-voorskrifte opgeklaar, “tog beskou ek dit nie as ‘n rede vir versuim nie. Die kwessies in die verslag is ernstig. Dit getuig oor die lewenservaring van gemeenskappe en die grondwetlike plig van die regering om toegang tot basiese dienste, waardigheid en ‘n responsiewe openbare administrasie te verseker.”
LEES OOK: Sol Plaatje ‘onverskillig, nalatig’ met rioolbesoedeling van Kamfersdam
Wat die aanbeveling rakende die Sol Plaatje-munisipaliteit betref, sal die premier gelei word deur die toepaslike wetlike en tegniese vereistes ingevolge die raamwerk vir Rampbestuur.
” ‘n Rampverklaring is nie net om ‘n goeie beeld te skep nie. Dit moet volg op ‘n behoorlike assessering deur die betrokke rampbestuurstrukture. Intussen sal die provinsie voortgaan om met die munisipaliteit, departement van samewerkende regering, die provinsiale tesourie en toepaslike tegniese agentskappe saam te werk om die mees dringende sanitasierisiko’s te stabiliseer.”
‘Verskerp ingrypingsplanne’
Oor Artikel 139-ingrypings stem Saul saam dat provinsiale ingryping tot sigbare verbetering in dienslewering moet lei.
Hy sê hy fokus op skerper ingrypingsplanne, duidelike aanspreeklikheid, tegniese ondersteuning, geldelike dissipline en gereelde verslaggewing aan die Uitvoerende Raad.
“Die provinsiale tesourie en die departement van samewerkende regering moet toesig hou oor herstelbeplanning, krediteurebestuur en ondersteuning gee aan munisipaliteite wie se finansies basiese dienslewering bedreig.”
Die Kantoor van die Premier sal met die betrokke departemente koördineer om geraakte munisipaliteite met praktiese ondersteuning te help om besoedelde woongebiede skoon te maak en omgewingsgesondheidsrisiko’s te identifiseer.
Dit sluit tegniese leiding, opruimingsbeplanning en dringende risiko’s in.
Saul neem kennis van die MRK se sperdatums, tydlyne, bewyse van vordering en gereelde verslae deur die Kantoor van die Direkteur-generaal.
“Hoewel die regstatus van die verslag korrek verstaan moet word, vereis die menslike werklikheid ‘n daadwerklike en gekoördineerde regeringsreaksie.
“Gemeenskappe verdien waardigheid, funksionerende dienste en sigbare aanspreeklikheid,” sê Saul.
‘Grondwetlike pligte versuim’
In sy reaksie verwelkom die DA die “verdoemende” bevindings.
Die party sê dit bewys die ineenstorting is nie die gevolg van natuurrampe nie, maar eerder van “mensgemaakte wanbestuur en menslike foute”.
Gizella Opperman, DA-woordvoerder oor samewerkende regering, sê die verslag bevestig die daaglikse werklikheid van infrastruktuurtekorte, vandalisme en onbetroubare dienste.
Ons kort nie nog ‘n werkswinkel of nog ‘n omsendskrywe nie. Ons benodig daadwerklike, onmiddellike ingryping deur diegene wat in inwoners se beste belange optree.
– Gizella Opperman
Die party het onderneem om die verslag in die provinsiale wetgewer te gebruik om “ware verandering af te dwing”.
Die VF Plus het ook die verslag verwelkom en sê dit bevestig die provinsiale regering het sy grondwetlike pligte versuim.
Theo Joubert, VF Plus-LPW, het die LUR vir samewerkende regering, Bentley Vass, gekritiseer omdat hy nie ingegryp het toe waarskuwingstekens van verval reeds duidelik was nie.
Die VF Plus dring aan op onmiddellike Artikel 139(1)(b)-ingrypings in munisipaliteite wat faal; die formele verklaring van ‘n provinsiale ramptoestand in die Sol Plaatje-munisipaliteit; en nasionale ingryping in gevalle waar die provinsie self nie daarin slaag om die situasie reg te stel nie.
“Die MRK het streng spertye gestel vir die implementering van sy aanbevelings en onderneem om die vordering noukeurig te moniteer om te verseker die bevindinge lei tot die herstel van waardigheid vir Noord-Kapenaars,” sê Joubert.
Die burgerregteorganisasie, AfriForum, sê die MRK-verslag bevestig wat dié organisasie al vir jare sê: dié provinsie ervaar ernstige en volgehoue tekortkominge in basiese dienslewering.
“Dit wys nie net probleme uit nie, maar beklemtoon die dringendheid waarmee volhoubare oplossings geïmplementeer moet word,” sê Thomas van Dalen, Noord-Kaapse streekshoof. “Die verslag wys ook daarop dat heelwat munisipaliteite hoofsaaklik op krisisbestuur staatmaak, eerder as om langtermynoplossings te ontwikkel en infrastruktuur sistematies te onderhou.”



