Tristan Bezuidenhout, jong losskakel van Keimoes-rugbyklub, kry Saterdag sy span op die voorvoet teen United op die Eilandveld in Upington.
Tristan Bezuidenhout, jong losskakel van Keimoes-rugbyklub. FOTO: Nick Pretorius

Upington United wen wedstryd ná lang droogte


Die beleërde rugbyklub Upington United kon die afgelope Saterdag op die Eilandveld daarin slaag om sy lang wendroogte te beëindig ná ‘n verdiende sege oor die besoekende span van Keimoes-rugbyklub. United het hul ZF Mgcawu-ligawedstryd met 31-19 gewen nadat hulle met die waterbreek met 17-7 voor was.

United moes egter hard spook om die bedrewe span van Keimoes in toom te hou. Die besoekers se agterlyn met die losskakel Tristan Bezuidenhout aan die voorspits, het United se verdedigers goed op die proef met hul balvaardige vernuf en spoed gestel.

Uit twee goeie bewegings in die middeveld het die besoekers twee keer goed afgerond.

Puntemakers: United se drieë is gedruk deur Morné van Wyk (2), Leandro Booysen, Jakkie Eiman en Tristan Wessels. Doelskoppe: Dawid Tee (2) en Covin Titus (1).

Keimoes: Drieë deur Dino Johnson, Tristan Bezuidenhout en Celwin Beukes. Doelskoppe: Adriano van Rooyen (2).

Swak verdediging uitgebuit

In ‘n vorige wedstryd op 15 Augustus het Defence Force Collegians (DFC) met groot gemak teen Upington United met 65-3 op die Eilandveld in Upington gewen. Dit was ‘n eensydige kragmeting waarin DFC na willekeur die swak verdediging van United met reëlmaat uitgebuit het.

United was vier seisoene gelede die voorste rugbyklub in die ZFM-liga.

Talle van sy staatmakers het verhuis of die klub verlaat met die gevolg dat die span die afgelope twee seisoene erg verswak het. Volgens Davey Visagie, afrigter en woordvoerder van die klub, gaan die span deur ‘n moeilike fase.

“Ons het van ons beste spelers afgestaan aan ander klubs en is besig met ‘n bouproses met jong en onervare spelers. Ons hoop ons kan volgende seisoen ‘n paar nuwe spelers bykry om ons reserwekrag ‘n hupstoot te gee. Rome is nie in ʼn dag gebou nie,” sê hy.

LEES OOK: Kakamas wen naelskraap teen Upington Dorp in ZF Mcgawu-rugbyliga

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article