Riodean Diedericks, ‘n 19-jarige leerder aan die Hoërskool AJ Fereirra in Upington, is ingesluit in die Suid-Afrikaanse o.20-handbalspan wat in Zambië aan die International Handball Federation Zone 6-kampioenskaptoernooi gaan deelneem.
Riodean, ‘n boorling van Rosedale, doen sy slypwerk onder die waaksame oog van Neo Matlhare, ‘n gesoute afrigter in dié sport.

“Ek voel baie trots op Riodean. Hy is nederig en toegewyd en wil altyd meer weet van handbal wat maar onlangs by ons posgevat het,” sê Matlhare.
Suid-Afrika se o.20-span gaan onder meer teen die gasheerland Zambië te staan kom tydens die toernooi van 28 April tot 2 Mei. Hulle sal ook teen Namibië, Lesotho, Malawi en Swaziland kragte meet.
Upington se gemeenskap staan bankvas agter hul staatmaker en wens hom sukses en sterkte toe in hierdie strawwe internasionale byeenkoms.
LEES OOK: Doele, drama en aksie by Cornald Mouers-sokkertoernooi in Upington






You must be logged in to post a comment.