UPINGTON – Honderde oud-Uppies-en Velties-ondersteuners het van heinde en ver op Saterdag 8 Augustus na ‘n stampvol Dries Potgieter-stadion gekom vir die jaarlikse Groot Interjol-kragmeting tussen die Hoërskool Duineveld (Velties) en die Hoërskool Upington (Uppies).
Uppies het Velties in winderige toestande welverdiend met 36 – 19 in die stof laat byt.

Die tuisspan, Velties, het met die sterk wind van agter baie goed begin om vroeg met 14 – 0 voor te loop. Hulle kon egter die voordeel van die wind beter benut het, en Uppies se rotsvaste verdediging het hulle van talle belowende bewegings van die doellyn weg gehou.
Velties se groter en swaarder agttal het Uppies onder kwaai druk geplaas en die Wittruie het ook in die lynstane ietwat die oorhand gehad. Uppies se fiksheid en hul veggees was ‘n kenmerk van die Oranjetruie se karakter. Schalk van Sittert en Marius Coetzer het goeie lynstaanbesit vir Velties gewen.

In die tweede helfte het Uppies saam met die sterk wind na ‘n hoër rat oorgeskakel en hul gevaarlike agterlyn het Velties talle kere deeglik beproef.
Die losskakel Matthew van Wyk het met die goeie balbesit sy agterlyn vinnig in rat gekry. Uit dié agterlynbewegings het Uppies drie keer skitterend afgerond. Uppies se ses-flank Tiaan Serfontein het uitgetroon en hy het feitlik in elke drie in die tweede helfte ‘n leeue-aandeel gehad.
LEES OOK: Jong Noord-Kaapse skuts mik na Suid-Afrikaanse kampioenskappe
Dan moet die naam van Christoffel le Riche, Velties se woelige oopkantflank ook in dié opsig genoem word. Hy was oral op die aanval en verdediging.
Dit was beslis ‘n baie beter vertoning deur Velties sedert die klein interjol vroeër in die seisoen. Al die eer gaan aan die wenspan vir ‘n goeie regrukpoging in die tweede helfte. Uppies was op die dag se vertoning die hongerste span wat puik karakter getoon het vir ‘n welverdiende sege van 36 – 19.
Puntemakers
Uppies – drieë deur Vaylen Lombard (2), Janco Adriaanse (2), Mario Vries en Matthew van Wyk. Drie doelskoppe: Matthew van Wyk.
Velties – drieë deur Rivaldo Ruiter, Hugo Spangenberg en Christoffel le Riche. Twee doelskoppe deur Kian Naudé.




