Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

Daar gebruik ek mos toe verlede week my Twyfelhoekie-ruimte om te skryf oor moeilike mense. En ek word oorval met reaksies.

Eintlik verrassend baie en vreemde en snaakse reaksies. Ons lesers vra: “Skryf nog oor moeilike mense, oor hoe om hulle te hanteer” of “Ja, daar is baie van hulle” of “Jy kan my niks vertel nie, ek is omring deur moeilike mense” of “Moeilike mense steel my vreugde ja.”

LEES OOK: Hoe gemaak met mense wat moeilik van karakter is?

En só kan ek aangaan.

Dit was vir my ‘n verrassing. Is mense dan so moeilik? Of dink ons mense is moeilik as hulle van ons verskil? Of het mense gewoon net so geword dat hulle hul sin moet kry in alles?

Is dit dalk hoekom kerke soms leër word en skole mekaar soms doodbaklei? Hoekom mense nie meer kan verloor nie?

So, kom ons maak ‘n paar algemene opmerkings, met algemene waarhede, wat jy rustig op jou tyd kan oordink:

Moenie moeilik wees nie, dit is nie nodig nie.

Moenie altyd jou sin wil hê nie; dit is ‘n volwassene wat soms kan terugstaan.

Hanteer ander soos jy hanteer wil word.

Moenie iemand ‘n onreg aandoen nie.

Moenie te gou te na gekom voel nie.

Begin by jouself, voor jy die vinger na ‘n ander draai.

Wees opreg.

Luister.

Werk aan verhoudings.

‘n Mens kan nou nog baie dinge hier byvoeg. Die kern is: Leef in liefde en hanteer mense in liefde.

As jy een van daardie mense is wat ander se vrede versteur – hou op daarmee. Dit is vir mense om jou sleg.

As jy een van daardie mense is wat vreugde bring na ander – hou aan daarmee. En word draers van vrede.

Mense is soms onnodig moeilik. Mense is soms onnodig kleinserig. Tussen al hierdie dinge moet ‘n mens ‘n pad vorentoe vind.

Daardie pad begin meestal by jouself. Ons kan vir ‘n ander mens so baie beteken. Wat verhinder ons om ‘n ander te verryk met ons menswees?

Wees mooi. Leef mooi.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article