Hiermee die agtste aflewering van ‘n reeks wat ‘n Noord-Kapenaar oor die lewe saam met ‘n narsistiese ma geskryf het. Lees vorige aflewerings hier.
Ek is amper klaar met laerskool. Ons het onlangs verhuis en bly ver van my laerskool af.
“Ek hoop nie jy is volgende jaar se hoofmeisie nie,” sê my ma terwyl ons aandete maak.
Ek skud my kop. My beste maatjie gaan hoofmeisie wees, almal weet dit.
Twee dae later word ek as hoofmeisie van die volgende jaar aangewys.
My moed het in my skoene gesak. Ek het probeer retireer. Ek wou vra dat iemand anders hierdie posisie kry. Dit is nie my plek nie.
Dit was een van my moeilikste skooljare.
Gedurende daardie jaar het my ma my keer op keer op keer herinner aan hoeveel moeite ek haar met my hoofmeisieskap besorg. Elke keer as daar ‘n skoolfunksie was moes ek hoor dat sy nie ruikers wou gaan afhaal of servette wou gaan kry nie. Ek is daaraan herinner dat sy niks van hierdie goed sou hoef te gedoen het as ek nie as hoofmeisie verkies is nie. Verwyt op verwyt op verwyt.
Terselfdertyd het sy my vertel hoe trots sy op my is omdat ek as hoofmeisie verkies is. Sy het vertel hoe sy die heeltyd geweet het dat niemand anders hoofmeisie sou word nie. Dat my hoofmeisieskap iets is wat sy baie vroeg in my lewe kon voorsien het.
‘Nooit weer nie…’
Teen amper die einde van my skoolloopbaan het ‘n onderwyseres in die verbygaan genoem dat ek waarskynlik oor ‘n paar maande as hoofmeisie verkies gaan word.
Ek het myself voorgeneem om nooit weer deur so iets te gaan nie. Ek het doelbewus alles gedoen om myself te saboteur. Ek het van alle sportaktiwiteite onttrek en glad nie meer in klasverband aan enige besprekings deelgeneem nie. Ek het stil en teruggetrokke geraak. Ek was traag om my medeklasmaats te help. Ek het my ware self baie diep gebêre – ter wille van oorlewing.
My plan het gewerk.
Die mense met kennis oor hierdie tipe emosionele mishandeling noem dit “gaslighting”. Slagoffers word heen-en-weer soos ‘n pendulum tussen ‘n positief en ‘n negatief geslinger. Sodra slagoffers dink hulle het ‘n idee waar hulle staan, word hulle weer van balans afgeruk.
Narsiste gebruik hierdie tegniek om beheer oor hulle slagoffers te kry. Hulle manipuleer die werklikheid dat slagoffers aan hul eie vermoë en eie-waarde begin twyfel. Indien dit baie intensief en oor ‘n lang genoeg tydperk gedoen word, raak slagoffers van die narsis afhanklik en word die vermoë om die narsis te verlaat heeltemal uitgeblus.
LEES OOK: ‘Jou hare lyk mooi’ sê sy; en ek wens ek was dood
Die onsigbare dekmantel wat oor emosionele mishandeling hang maak dat slagoffers nie herken of gehelp word nie. Jy moet self probeer oorleef.
Ek skryf oor hierdie littekens wat ek in my hart ronddra om ‘n fisiese bewys te hê van ‘n lewe wat ek nie wou leef nie. As dit iemand kan help om uit die wurggreep van narsisme weg te breek, soveel beter.



