Hiermee die sewende aflewering van ‘n reeks wat ‘n Noord-Kapenaar oor die lewe saam met ‘n narsistiese ma geskryf het. Lees vorige aflewerings hier.
Ek is in die laerskool. Die klokkie klingel liggies toe ek die deur van die haarsalon agter my toedruk. Die tannie wat my hare gereeld sny wink my nader.
“Gaan sit sommer by die wasbak. Ek is amper klaar.”
Te vinnig is dit my beurt. “Hoe sny ons vandag?” vra die tannie toe sy agter my kom staan. Sy sny al twee jaar my hare.
“Net korter. Soos altyd. Dankie, tannie,” antwoord ek vriendelik.
Sy neem die skêr en kam en begin my kort haartjies in paadjies kam voordat sy begin sny. Hier en daar steek sy dit met ‘n knip vas en werfskaf voort.
“Waar is mamma?” vra sy. Altyd dieselfde vraag. Altyd dieselfde antwoord. “Sy wag buite in die motor, tannie.”
Die skêr en kam word sorgvuldig op die trollie langs my neergesit toe sy klaar is. Ek stap saam met haar na die toonbank toe.
“Dit sal R40 wees,” sê sy en skryf in ‘n boek. “Ek gaan gou die geld kry,” sê ek.
Die klokkie klingel weer liggies toe ek die deur oopmaak. Ek stap motor toe. Ek gaan langs die oop motorvenster staan.
“Dit is R40,” sê ek met nat haartjies wat orent staan.
“R40? Vir wat? ‘n Mens kan skaars sien dat jou hare gesny is! Hier, vat R20.”
My bene dra my tot terug by die toonbank. Die tannie kyk op. Ek voel sleg. Verneder. Skaam. Skuldig.
“My ma gee hierdie …” Ek hou die R20 na haar uit. “Sy sê dit is te min gesny vir R40.”
“Dis reg. Jy kan gaan,” sê sy terwyl sy in die boek skribbel.
“Dankie, tannie. Tot siens, tannie.”
Dit kon erger wees. Soms gee my ma net R10. Daar was al kere wat ek moes kom sê het my ma gaan glad nie betaal nie.
Ek stap tot by die motor en klim ingedagte in. “Jou hare lyk mooi,” sê sy.
“Dankie,” sê ek skaars hoorbaar. Ek tuur in die verte in. Ek dink aan jare se haarafsprake wat voorlê. Ek wens ek was nie gebore nie. Ek wens my hare was lank. Ek wens ek was liewer dood.
Narsiste verneder hul slagoffers. Enige kans wat homself voordoen. Enige tyd. Enige plek. Maar distansieer hulself gewoonlik – hulle mag immers nie soos die vark in die verhaal lyk nie.
As ‘n slagoffer lank genoeg so verneder word, verbrokkel jou selfbeeld totdat dit voel asof daar net stof oorbly.
Die onsigbare dekmantel wat oor emosionele mishandeling hang maak dat slagoffers nie herken of gehelp word nie.
Jy moet self probeer oorleef.
Ek skryf oor dié littekens in my hart om ‘n fisiese bewys te hê van ‘n lewe wat ek nie wou leef nie. Dalk kan dit iemand help om uit die wurggreep van narsisme te breek.


