NovaNews

Kimberley se politieke toekoms: ANC en EFF smee pakt terwyl DA ‘oordeelsdag’ voorspel

Die ANC en die EFF het ’n formele samewerkingsooreenkoms aangekondig wat daarop gemik is om “dienslewering te verbeter en die munisipaliteit te stabiliseer en die administrasie reg te ruk”.
Die ANC en EFF is nou saam in die bed in Kimberley. FOTO: Charné Kemp

KIMBERLEY – In ’n dramatiese wending vir die Sol Plaatje-munisipaliteit het die ANC en die EFF ’n formele samewerkingsooreenkoms aangekondig wat daarop gemik is om “dienslewering te verbeter en die munisipaliteit te stabiliseer en die administrasie reg te ruk”.

Terwyl die nuwe vennootskap deur die betrokke partye as ’n “deurbraak vir die mense van Kimberley” beskryf word, het die DA dit afgemaak as ’n “oordeelsdag-koalisie” wat uitsluitlik deur politieke oorlewing gedryf word.

Dié wending volg nadat die EFF en ander opposisiepartye Vrydagmiddag 17 April ʼn virtuele raadsvergadering met ʼn petisie belê het om die begroting ter tafel te lê. Hulle het dit gedoen nadat die hooggeregshof in Kimberley die speaker se dringende interdikaansoek teen die virtuele vergadering afgewys het.

In verlede Woensdag se chaotiese raadsvergadering het ANC-raadslede op meerderwaardige wyse op EFF-raadslede geskreeu dat hulle “verkies is, eerder as die EFF-lede wat proporsionele raadslede is.” Opposisielede is ook met eiers vanuit die openbare galery bestook.

‘Ons van is stabiliteit en ons naam dienslewering’

Deshi Ngxanga, ANC provinsiale sekretaris, en Zet Kwinana, EFF provinsiale sekretaris, het by ’n mediakonferensie gesê die “strydbyl tussen hul partye is nou begrawe en alles vergewe”.

Volgens Ngxanga en Kwinana is die kern van hul ooreenkoms “ ’n gedeelde passie vir dienslewering en administratiewe stabiliteit.”

Hulle het benadruk dit is ’n “saamvloeiing van gedagtes” om die uitdagings van die munisipaliteit daadwerklik op te los.

LEES OOK: Chaos met eiergooi en pepersproei in raadsvergadering ‘doelbewuste nuwe taktiek’

Kwinana sê hulle het as beloning vir samewerking twee burgemeesterskomiteeposte in die Sol Plaatje-munisipaliteit en een posisie in die Frances Baard-distriksmunispaliteit aanvaar om direk tot die bestuur van die stad by te dra.

“Ons van is stabiliteit en ons naam dienslewering,”  sê Kwinana.

Volgens die partye werk hulle reeds goed saam in ander Noord-Kaapse munisipaliteite soos Phokwane, Siyancuma, !Kheis en Gamagara.

Die ANC en EFF se lys van dringende sake van voorkeur is watersekuriteit, sanitasie-infrastruktuur en slaggate.

“Dis onaanvaarbaar dat inwoners met droë krane sit. Die rioolkrisis in townships, waar rou riool letterlik in die strate afstroom, is ’n prioriteit,” sê Ngxanga.

Kwinana sê ook die stad word deur slaggate “geteister, wat nie net inwoners frustreer nie, maar ook beleggers afskrik. Ons sal Kimberley weer ’n skoon en veilige stad maak wat die beeld van die provinsie kan uitdra.”

Dit sal volgens hulle “nutteloos” wees om beleggers na die stad te nooi as die strate vol slaggate is.

Ngxanga sê voorts die munisipaliteit moet “depolitiseer” word. “Amptenare en werkers moet fokus op hul pligte en nie hulself as politici sien nie.”

Albei partye het onderneem om die regsproses oor die status van die munisipale bestuurder te respekteer, “maar geen amptenaar sal beskerm of vervolg word bloot op grond van politieke affiliasie nie.”

‘Nuwe koalisie sal agteruitgang versnel’

Lisa Schickerling, DA provinsiale voorsitter, sê die “magspakt gaan nie oor die inwoners nie, maar oor die ANC wat desperaat aan die mag vasklou namate hulle beheer oor Sol Plaatje verloor.”

Volgens die DA lei ANC-EFF-samewerking histories tot chaos, swak bestuur en die uiteindelike ineenstorting van dienste, soos gesien in metropole soos Johannesburg en Nelson Mandelabaai.

“Suid-Afrikaners weet reeds wat die samewerking beteken: vullis wat nie verwyder word nie, disfunksionele sanitasie, en geld wat verkeerd bestee word,” sê Schickerling.

Sy sê Kimberley ly onder stukkende straatligte, riool in die strate en voortdurende watertekorte, en dat die nuwe koalisie slegs hierdie agteruitgang sal versnel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article