Aan die einde van die dag is dit maar die begeerte om vrede te beleef en te ervaar wat alle verstand te bowe gaan.
Meer as een keer in ons lewe kom ons op ‘n punt dat ons die dinge om ons nie verstaan nie.
Ons hoef ook nie alles te verstaan nie. Solank ons verstaan van vrede in ons hart, in ons lewe, in ons gemoed en ons strewe.
Die wêreld is eintlik maar ‘n plek waar die vrede betreklik min is, daarom soek ons so lank daarna.
Daar is soveel dinge wat ons vrede van ons wegneem. Die verhoudings tussen mense is soms groot diewe van vrede; ja, ook hulle wat vir ons lief is, ontneem ons soms ons vrede.
Ook in die werkplek word ons vrede ons soms ontneem – en op die bankstaat, in die politiek en in die konteks om ons. Duurder brandstof bedreig ons vrede, swak gesondheid bedreig ons vrede, konflik bedreig ons vrede en wêreldpolitiek bedreig ons vrede.
Onsekerheid maak ons bang.
Dit steel ons vrede. En in al hierdie dinge begin ons soek na vrede.
Ons wil so graag vrede koop, ons wil so graag vrede verdien deur ons gawes, ons wil so graag goed genoeg wees om vrede net te mag hê.
En namate ons soek, kom ons op ‘n punt dat ons besef: Dit maak nie saak hoe goed of mooi of slim of ryk jy is nie, vrede kan jy nie koop of verdien nie.
Vrede kom deur ‘n krip. Vrede kom op die rug van ‘n donkie. Vrede kom deur ‘n kruis.
Daarom word dit nie ligtelik gedoen dat ons in hierdie Paastyd mekaar vrede toewens nie.
Mag jy vrede beleef wat verstand te bowe gaan. Vrede waarvoor jy nie kan werk nie en waarvoor geen geld genoeg is nie.
Vrede, ongeag jou konteks. ‘n Vrede wat niks en niemand van jou kan wegvat nie. Dit is ware vrede. Mag jy daardie vrede hê.
- Lees nog rubrieke hier.


