Ons vier en gedenk Sondag die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Van vele kansels af weerklink die woorde Sondag: Die Heer het opgestaan! En gemeentes beaam dit: Die Here het waarlik opgestaan!
Ons kan maklik oor die opstanding dink as ‘n historiese gebeurtenis wat ons net vier en herdenk. Maar dit is veel meer as dit.
In die Sunday Independent van ‘n klompie jare terug skryf biskop Bill Meaker van die Metodiste kerk in Suid-Afrika: “Easter is not just something that happened a long time ago… It happens every day… It happens today… for those who have eyes to see and a heart to believe.”
Ja inderdaad, want toe God, Jesus uit die graf uit opgewek het, het ‘n krag losgekom wat die lewe van mense kan verander – wat dood in lewe kan verander – gebrokenheid in heelheid – wat lig bring in duisternis.
Twee groot magte is aan die werk in die wêreld: Een wat afbreek, vernietig en doodmaak; en die mag wat opbou, gesond maak en lewe gee.
Misdaad en korrupsie breek af. Ook misbruik van alkohol en dwelms. Dobbelary. Oorlog en rassehaat. Selfgerigtheid, trots, gulsigheid en woede. Ook siekte, ongelukke en pyn.
Het God ‘n antwoord hierop?
Ja. Ons noem dit Paasfees. Die krag van die opstanding kan hierdie dinge omkeer. Waar die negatiewe omgekeer word in positief – of dinge wat dood was weer lewend word – sien ons die krag van gesondmaking en transformasie aan die werk.
Waar ‘n gebroke lewe heelgemaak word. Mense vir mekaar omgee. Bitterheid en wraak omkeer in vergifnis. ‘n Lewe van misdaad omkeer in ‘n lewe van diens. Waar gebrokenes se lewe omkeer in vreugde en opwinding – daar sien ons die krag van die opstanding.
Dit is hoe Pase elke dag plaasvind.
Hoe kan hierdie Paasgebeure deel word van ons lewe? Deur te glo dat Jesus Christus waarlik opgestaan het – dat hy met die dieselfde krag waarmee hy uit die dood uit opgestaan het, ook in my lewe werksaam kan wees. Ook my lewe kan verander.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.


