Dit is dierbaar hoe ons die Afrikaanse taal kan verbuig of lettergrepe kan herrangskik om ons eie woorde en begrippe te skep.
“Toe ek klein was, het ek nie van ‘n pynappel gepraat nie; wel van ‘n appelpyn,” skerts iemand wat ek lank ken.
“Ons seuntjie sê nie pikdonker nie, maar klipdonker.”
“Ek het altyd van ‘n ysstryker gepraat, in plaas van ‘n strykyster,” vertel ‘n familielid.
Toe ons kinders klein was het hulle altyd gesê: “Ek het dit misgesien.” Ek het tevergeefs probeer om hulle sover te kry om te sê: “Ek het dit nie gesien nie.”
As volwassene praat iemand steeds vandag van ‘n pajon en nie ‘n japon nie.
Hoewel dit nie die reg is nie, weet almal wat dié begrippe beteken en waarop dit dui.
Soms is die verkeerdom aanmekaarsit meer beskrywend as die oorspronklike woorde.
Soms beskryf mense diere volgens hul kleur, grootte, voorkoms of die geluide wat die dier maak. Selfs al het jy nie die dier gesien nie, kry jy ‘n duidelike prentjie daarvan in jou kop – al word dit nie op die regte naam genoem nie.
“Sy het nooit van ‘n swartwitpens gepraat nie, maar van ‘n swartwitboeppens,” sê iemand.
Dit maak op ‘n vreemde manier sin.
In sekere gevalle noem mense iets só op die verkeerde naam dat jy later self nie die korrekte naam kan onthou nie.
Iemand na aan ons praat nie van ignoreer nie, maar van igroneer.
Deur geslagte word mense onthou juis aan vreemde name wat hulle aan alledaagse dinge gekoppel het.
Watter verkeerdom woorde het jy teëgekom of gebruik jy?
Watter verkeerdom woorde is al só deel van jou woordeskat dat jy ‘n oomblik moet konsentreer om die korrekte woord te gebruik?
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.


