KIMBERLEY – John Ross Henderson wat aangekla word van die moord van Jason Afrique, poging tot moord op Afrique se vrou, asook twee aanklagte van regsverydeling, wil die polisie se ondersoekdagboek in die hande kry.

Sy aansoek om gedeelte C van die misdaaddossier onder oë te kry, wat deur adv. Theuns Barnard, aanklaer teengestaan word, is Vrydag 27 Maart in die hooggeregshof in Kimberley deur adjunkregterpresident Violet Phatsoane aangehoor.

Die Afrique-egpaar, Jason en Mickayla, is op die aand van 31 Julie 2024 in hul bakkie voor die hek van hul woonkompleks in Blackstraat in die stad aangeval. Jason het oor sy vrou in die passasiersitplek geval om haar teen die meer as tien skote te beskerm wat op ʼn kort afstand geskiet is. Hy het in die koeëlreën gesterf.

LEES OOK: Verdagte verskyn in hof ná skietdood in Kimberley; borgtogaansoek uitgestel

Die staat voer aan Henderson het sy selfoon op die toneel laat val, en die volgende dag glo ‘n vals verklaring aan die polisie gemaak dat sy selfoon by ‘n vulstasie vermis geraak het. Hy het glo ‘n werknemer by die vulstasie genader om die datum en tyd op die videomateriaal te wysig.

Die skietery het daardie aand tussen 20:41 en 20:43 plaasgevind. Videomateriaal toon Henderson het omstreeks 22:26 by die vulstasie aangekom waar hy glo sy selfoon verloor het.

‘In belang van geregtigheid’

Herholdt Robertson, namens Henderson, het nege punte gehad waarop sy aansoek “in belang van geregtigheid” gesteun het. Hy voer aan die staat se saak het gebreke, en dit is waarom die staat sy aansoek teenstaan.

Een van sy kwellings is die “teenstrydige tydlyn” van die gebeure op die betrokke aand soos deur getuies en die polisie se mediaverklaring gegee. Volgens hom kan hy meer insig hieroor in die ondersoekdagboek kry.

Voorts is daar teenstrydige getuienis oor hoeveel en waar die patrone, wat met deksels bedek is, op die toneel gevind is. Nog ʼn kwelling is hoe die selfoon wat op die toneel gevind is, hanteer is en deur die getuienisketting beweeg het. Dit is glo nie dadelik op die betrokke aand by die polisiekantoor ingehandig nie.

Voorts kon die polisie se selfoondeskundige nie sekere antwoorde op vrae gee oor die selfoontorings nie, waarna ʼn werknemer van die selfoonmaatskappy geroep is om te getuig.

Robertson is beswaard dat hy, sy kliënt en hul deskundige nie toegang tot die bakkie kon kry om die skade te bekyk nie, want dit is herstel en aan die eienaar teruggegee.

‘Inligting versoek is irrelevant’

Barnard het op sy beurt aangevoer dat Henderson se verweer is dat hy nie op die misdaadtoneel was nie.

“Wat sal toegang tot die bakkie hom help om sy onskuld te bewys as hy nie daar was nie? Die verdediging het hul afspraak kanselleer om na die voertuig te kyk. Die bakkie is aan die eienaar teruggegee nadat die ballistiese en ander kundiges hul ondersoek voltooi het.”

Volgens Barnard kon die verdediging ingevolge regsvereistes geen prima facie-getuienis toon om hul aansoek te steun nie, en moet dit afgewys word. Die inligting wat hulle versoek is irrelevant. Boonop is presiese versoeke oor watter bewysmateriaal hulle verlang, vaag en onduidelik. Hul vrae sal nie deur die ondersoekdagboek-inskrywings beantwoord word nie.

LEES OOK: Henderson-verhoor: Selfoon-analis getuig oor drie selfoonnommers

Die verdediging was van die begin af bewus van die beskikbare bewyse en die laaste aspekte van die ondersoek wat voltooi is. Die verdediging kon selfs die selfoonmaatskappy se werknemer wat geroep is om ontbrekende vrae te beantwoord, kruisondervra, voer Barnard aan. Voorts kon hulle ander getuies kruisondervra om hul kwellende vrae te beantwoord.

Die tydlyn van gebeure is tot op die minuut deur die getuies gestaaf. Die oorledene se vrou se selfoon het byvoorbeeld die tyd aangetoon wat sy haar pa gebel het kort nadat die laaste skoot gehoor is. Haar pa se selfoon bevestig ook die tydlyn, asook ander ooggetuies, video’s en die polisie se getuienis.

Phatsoane sal op 16 April uitspraak lewer. Intussen duur Henderson se soveelste borgtogaansoek op nuwe feite in die landdroshof voort op 2 April.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article