Jannie van Zyl, feesdirekteur: Yonder Hartsfees:
In die Diamantstad skyn ‘n lig helderder as enige diamant: die moed, waardigheid en deursettingsvermoë van persone met gestremdhede wat weier om aan die kantlyn van die samelewing te leef. Hierdie merkwaardige gees vorm die hartklop van Yonder Hartsfees 2026, wat van 1 tot 6 September in Kimberley plaasvind.
Dit is die sesde jaar dat die fees plaasvind.
Aangebied deur die Noord-Kaapse Vereniging vir Geestesgesondheid, in vennootskap met die Yonder Vaardigheidsontwikkelingsentrum en Beskermde Werksplek, is dit meer as net ‘n fees op die kalender. Dit is ‘n daad van hoop. ‘n Verklaring van menswaardigheid. ‘n Praktiese bewys dat inklusiwiteit nie net ‘n ideaal is nie, maar iets wat gemeenskappe daadwerklik kan leef, vier en versterk.
Die Yonder Hartsfees bring bewusmaking van die persoon wat leef met ‘n gestremdheid byeen met kuns, gemeenskapsontwikkeling en ekonomiese groei op ‘n manier wat selde in Suid-Afrika gesien word.
LEES OOK: Yonder Hartsfees: Sport(s) vir elke smaak op grootmaat aangebied
Elke rand wat deur die fees ingesamel word, word direk teruggeploeg in die ontwikkeling en ondersteuning van volhoubare werkgeleenthede vir volwassenes met intellektuele gestremdhede.
Hierdie geld maak dit moontlik om die Yonder Vaardigheids-ontwikkelingsentrum verder uit te bou, werkswinkels te verbeter, noodsaaklike vervoer te verbeter en toegang tot kritieke terapeutiese dienste te verseker. Dit is nie simboliese ondersteuning nie. Dit is konkrete bemagtiging wat mense help om met groter onafhanklikheid, trots en sekuriteit te leef.
Kunste herleef
Vanjaar word die Kimberley-teater die verhoog vir uitsonderlike produksies. Op 1 September tree Nataniël op, en op 2 September is ‘n produksie met Frank Opperman en Margit Meyer-Rödenbeck, Eerste vir alles, op die verhoog.
Boonop sal splinternuwe produksies uit al vyf distrikte van die Noord-Kaap hul stem, stories en kreatiwiteit na Kimberley bring. Die aanbod toon die provinsie se kulturele hartklop, en posisioneer die Noord-Kaap as ‘n geloofwaardige leier in inklusiewe kunste-ontwikkeling.


Gemeenskapsuitreiking
Die Yonder Hartsfees se hart klop veral vir die mees kwesbares. Tydens die fees sal 1 000 kinders uit spesiale skole en kwesbare gemeenskappe op vermaak, maaltye en geskenkpakkies trakteer word.
Kimberley se senior burgers sal eweneens met besonderse gasvryheid vereer word.
Deur jonk en oud saam te bring, help die fees om alle ouderdomsgroepe te verenig, sosiale isolasie te verminder en die waarde van elkeen in die gemeenskap te bevestig.
Die fees sal nasionale aandag kry, met die kykNET-program Fiësta wat vanaf Kimberley verslag doen.
Deur besoekers na Kimberley te trek, plaaslike handelaars te ondersteun en besteding in die gasvryheid- en toerismebedryf, skep die fees ekonomiese waarde wat wyd deur die stad en provinsie gevoel sal word.
Die leuse van Yonder is eenvoudig en kragtig: “We believe … we do it.” Met dié gees nooi die organiseerders provinsiale leiers, borge, sake-vennote, kunstenaars, media en die breër gemeenskap om hande te vat en saam te bou aan iets wat veel groter is as ‘n enkele gebeurtenis.
Die Yonder Hartsfees het die potensiaal om ‘n trots erkende instelling van die Noord-Kaap te word – een wat jaar ná jaar hoop bring, talent ontsluit en ware inklusiwiteit sigbaar maak.
- Vir meer inligting oor die fees, besoek die Facebook-blad Yonder Hartsfees, of skryf aan mail.yonder@gmail.com.








You must be logged in to post a comment.