Inwoners van tehuise en sentrums vir bejaardes en mense met gestremdhede kan dié Saterdag vanuit hul eie ruimte gratis ‘n musiekaand met Elvis Blue en Prop “bywoon”. Solidariteit Helpende Hand se sesde LIG-konsert vind by die AfriForum Teater in Pretoria plaas, maar die musiek kan ook regstreeks aanlyn by instellings oor die land heen gebeeldsend word.
LIG staan vir Liefde in Gestremdheid. Die konsert wil persone met gestremdhede se stem help hoor, geld vir projekte insamel wat ’n volhoubare verskil in hul lewe kan maak, en die LIG-studiefonds ondersteun sodat meer mense met gestremdhede kan studeer.
Tehuise en sentrums kan die uitsending gratis met hul inwoners deel deur vooraf ‘n e-pos te stuur om die skakel te ontvang.

Konsert skep bewustheid van persone met gestremdhede
Die LIG-konsert het in 2020 ontstaan nadat Prop se oom aan Covid-19 oorlede is. Prop wou iets doen om mense te ondersteun wat soortgelyke verlies ervaar. Die konsert het sedertdien gegroei tot ’n geleentheid wat geld vir mense met gestremdhede insamel en bewustheid oor hul lewe en uitdagings skep.
Prop wil almal, met of sonder ’n gestremdheid, bemoedig wat uitdagings in die gesig staar. Sy boodskap is dat as mense met gestremdhede, ondanks ekstra uitdagings, hul drome kan nastreef, mense sonder gestremdhede dit ook kan doen.
“Ons sê altyd: ‘As ek kan, kan jy’, want ons glo dat mense met gestremdhede voor baie unieke uitdagings te staan kom. As gevolg daarvan is hulle ’n goeie voorbeeld van mense met uithouvermoë,” sê hy.
Hy sê elkeen ervaar uitdagings, maar mense wat ’n fisieke verlies beleef, moet dikwels ook by ’n nuwe leefwyse aanpas. Sy ouers het hom geleer om te glo dat moeilike tye nie die einde van die pad is nie.
“Alles gaan oukei wees. Maak nie saak hoe moeilik dinge is nie, jy sal altyd aan die ander kant uitkom,” sê Prop.
LEES OOK: Erkenning word ’n instelling
Omskep uitdagings in inspirasie
Suzette Oosthuizen, Solidariteit Helpende Hand se hoof van sentrums en nasionale strukture, sê dat mense met gestremdhede by die konsert welkom is, en ook geëer word. Dié waardering word weerspieël in die Mathys Roets-eerbewys van Hoop wat mense vereer wat hul uitdagings in ’n inspirasie omskep. Vorige ontvangers sluit in Mathys Roets in 2022, Prop en Edwin Nelson in 2023, paralimpiese atleet Simoné Kruger in 2024 en motiveringspreker Koben Hofmeyr in 2025.
Die LIG-studiefonds het ook reeds twee studente ondersteun: ’n siggestremde LLB-student en ’n student in besigheidsadministrasie met gehoorverlies. Die fonds help studente om hul studies voort te sit en hul loopbaandrome na te jaag.
Bekom kaartjies só
Sarina is die aanbieder van die konsert, met Elvis Blue en Prop op die verhoog. Die konsert vind Saterdag 24 Oktober by die AfriForum Teater in Pretoria plaas. Deure open om 18:00 en die vertoning begin om 18:30.
- Verteenwoordigers van tehuise en sentrums vir bejaardes of persone met gestremdhede, kan ’n e-pos aan Sonica Vos by sonica@helpendehand.co.za stuur om die skakel te ontvang.
- Diegene wat nie in tehuise en sentrums woon nie, en ook nie die konsert persoonlik kan bywoon nie, kan vir R50 per individu ’n aanlynkaartjie koop.
- Fisieke kaartjies kos R150 vir volwassenes en R80 vir kinders van 12 jaar en jonger. Groepe van tien of meer betaal R130 per persoon. Fisieke kaartjies is by tixsa.co.za beskikbaar, soek vir LIG-konsert of klik hier.
- Aanlynkaartjies kos R50 per individu en kan by Ons Koopplek aangeskaf word.






You must be logged in to post a comment.