Die nimlike Dirk Ligter in ‘n teaterproduksie wat die week in die Kaap toer.

Botha Enslin bring vandeesweek ’n keur van gewilde kontreistories, geskryf in die tipiese streekstaal wat handel oor ’n unieke wêreld en sy mense, na die verhoog toe in Die Dood van die Founmannetjie en ander Ferdinand Deist Weskusstories in.

“Man, ou Lettie Ingelbrê het baie gedoen hier in ons buurt … bak virrie kjerkbesaar, blomme insteek by die troues, waak by die siekes … alles …haar hanne ‘t vir niks ve’keerd gestaan nie … Maar kan ‘ie ou mens vir jou geskinner ‘t!  Dis nou een swak wat die ou siel gehad ‘t wat sy nie ontslae van kan geraak ‘t nie.  Dit ennie vrees virrie dood…”  Ja, soos ’n bontspul vygies wat in ’n dorre Sandveldse landskap uitbars, so kleurryk is die mense wat die Weskus hul tuiste noem.  Sommige groots soos hul omgewing, of klein en dwaas soos mense ook maar is. Die produksies is van 5 tot 8 November in verskeie teaters in die Kaap.

Die Kaapse toer begin om Woensdag 5 November met die eerste optrede in die Masque-teater in Muizenberg, op 6 November in die Drostdy-teater in Stellenbosch, op 7 November kuier die teatergroep in Die Koelkamers in Paternoster en op 8 November is die optrede by die Drama Factory Teater in die Strand.   

Die stories is geskryf deur Ferdinand Deist, wie se bundel Die Pomporrel-konsert en ander Sandveldstories so paar jaar gelede weer op RSG voorgelees was. 

“Die verhoog was dus die logiese volgende stap”, sê Frans Swart, wat die stories vir die verhoog verwerk het.  Om verder kleur aan die produksie te gee, het Swart ook stories van Boerneef en Jan Spies bygevoeg. 

“Dit was moeilik om stories te kies uit die keur wat Deist vir ons geskep het, want hy het die wonderlikste stories oor die Sandveld geskryf.” 

Deist was ‘n professor in teologie, maar hy het die gawe gehad om die stories en die spreektaal van die Sandveld perfek neer te pen.

Besprekings vir Die Dood van die Founmannetjie en ander Ferdinand Deist Weskusstories kan gedoen word by www.LTickets.co.za of 011 815 3000. Meer inligting is beskikbaar by www.foonman.co.za

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article