Die huismark in verskeie dorpe in die Weskus is steeds ‘n belangrike dryfveer vir die gebied se groeiende ekonomie. Verkope in die eerste ses maande van 2026 toon ‘n sterk aanvraag na veral onbeboude erwe en vrystaande woonhuise.
In dié tydperk is verkope van sowat R265 miljoen in St Helenabaai aangeteken. Volgens syfers wat deur Benhard Wiese van die Cape Coastal Homes-agentskap verskaf is, is altesaam 142 erwe en 77 woonhuise in dié vooruitstrewende dorp verkoop.
“Die mark word sterk deur die vrye-eiendomsektor (losstaande huise) gedryf, wat 71,42% van die totale markwaarde verteenwoordig, hoewel dit slegs 35,16% van die totale transaksievolume uitmaak. Onbeboude grond/erwe het die grootste aandeel volgens volume, naamlik 64,84% van alle verkope, uitgemaak en het 28,58% tot die totale markwaarde bygedra.”

Volgens Wiese vestig St Helenabaai hom steeds toenemend as ‘n vooraanstaande kus- en leefstylbestemming en lok die dorp se unieke noordgerigte see-uitsig, rustige baaitoestande en relatief bekostigbare eiendomme steeds mense wat permanent na die kus verhuis, afgetredenes, afstandwerkers en beleggers in vakansiehuise.
Volgens Wiese word beraam dat die gekombineerde residensiële eiendomsmark in St Helenabaai teen die einde van 2026 ‘n totale waarde van ongeveer R530 miljoen, met sowat 438 transaksies, sal bereik.

Langebaan blyk ook sy reputasie as gesogte Weskus-leefstyldorp gestand te doen. Dié dorp, wat aan die bekende Langebaan-strandmeer grens, lok steeds jaarliks honderde permanente inwoners, afgetredenes en eiendombeleggers.
Meer as 200 residensiële eiendomstransaksies ter waarde van sowat R570 miljoen is in die eerste ses maande van 2026 beklink. Die meeste daarvan was vrystaande woonhuise, terwyl sowat 70 erwe in dié tydperk verkoop is.
Volgens syfers wat deur Wiese verskaf is, is veral die Mykonos-woonbuurt baie gesog by kopers, met byna 100 verkoopstransaksies. Die hoogste prys vir ‘n eiendom in Langebaan was R9 miljoen vir ‘n erf in die Langebaan Country Estate.
Steeds ‘n gewilde bestemming
Nader aan Kaapstad beleef die eiendomsmark in Yzerfontein ook ‘n bloeitydperk, met sterk voortgesette groei in die dorp se huismark.
Sowat 60 residensiële eiendomme met ‘n totale waarde van R310 miljoen is in die eerste ses maande van die jaar van die hand gesit. Verkope sal na verwagting die R600 miljoen-kerf teen die einde van die jaar oorskry. Dit sal ‘n toename van nagenoeg 13% wees, vergeleke met 2025.
Navorsing wat Wiese in 2023 gedoen het, het toe reeds getoon dat die Weskus as ‘n gewilde en gesogte bestemming deur beleggers in die residensiële eiendomsmark beskou word.
Altesaam 10 dorpe, wat plekke soos onder andere Langebaan, Velddrif, Yzerfontein, Vredenburg, Saldanha en Hopefield ingesluit het, het behoorlik gedy, met totale verkope van altesaam 1 484 eiendomme teen ‘n waarde van byna R2,5 000 miljard (R2 489 948 198).
Volgens Stoan Bartel, voorsitter van die St Helenabaai-sakekamer, lewer die residensiële eiendomsmark ‘n belangrike bydrae tot die breër plaaslike ekonomie van dié kusdorp.
“Elke eiendomstransaksie behels veel meer as bloot ‘n verandering van eienaarskap. Dit stimuleer ekonomiese aktiwiteite in verskeie sektore, waaronder eiendomsagentskappe, eiendomsoordragdienste, finansiële dienste, bou- en opknappingskontrakteurs, ambagslui, meubel- en huiswarewinkels, asook ‘n verskeidenheid ander plaaslike diensverskaffers.
“Dit skep ‘n volgehoue vraag na plaaslike kontrakteurs, ambagslui, boumateriaal, professionele dienste en kleinhandel, terwyl dit ook werksgeleenthede skep en verdere besteding in die plaaslike ekonomie stimuleer.
“Die voortgesette ontwikkeling van die gebied dra dus nie net by tot groei in die eiendomsmark self nie, maar ook tot breër ekonomiese groei en die uitbreiding van die plaaslike sakegemeenskap,” sê Bartel.
LEES OOK: Verhuringsagente altyd in spervuur




You must be logged in to post a comment.