Eiendomsagente wat hulle toespits op verhurings, kou harde bene om ’n kommissie van tussen R100 tot R300 per huureiendom per maand te verdien.
Vir Charlene Frick, ’n bekende verhuringsagent in Vredenburg, was die hoop vullis wat huurders verlede week vir haar op die sypaadjie gelos het – nogal in ’n singel in ’n spogbuurt – maar net nog ’n verhuring wat ’n wrang smaak in haar mond gelaat het. Sy moes self die hoop vullis optel, in ’n waentjie laai en na die munisipale vullisterrein neem.
Net om iemand te huur om haar te help om dit op te tel, is reeds meer as die “kommissietjie” wat sy per maand vir die huis verdien het.
Na aanleiding van dié voorval het Weslander anoniem met ’n paar agente gepraat oor die rol van die middelman tussen verhuurders en huurders, en die skamele kommissie waarvoor van hulle verwag word om ’n “diens sonder ophou 24 uur per dag” te lewer.
Die verhuringsagent is die eerste nommer wat huurders bel as ’n geiser in die middel van die nag breek of ’n waterpyp bars. “Mense bel my enige tyd van die dag of nag. Dan moet ek ’n plan maak – raad gee oor waar om die stopkraan te kry, en as dit nie werk nie, self uitry en die stopkraan gaan soek . . . twee-uur, drie-uur die oggend.”
Die agente stem saam dat mense bombasties en venynig kan raak as ’n verhuring begin skeefloop.
in spervuur tussen partye
“Mense weet niks van jou as ’n mens nie, maar hulle behandel jou soos ’n hond. Jy word geskel van al twee kante af. Jy is die middelman, maar jy is altyd die slegte hond in die verhaal, al probeer jy net jou bes. Ons moet gedurig hoor hoe sleg ons is.”
Verhuurders word woedend as die huurgeld laat is. “Jy’s altyd in die moeilikheid as dit laat is. Geen verhuurder verstaan as die huurder laat betaal nie. Dit is onmiddellik die agent se skuld dat daar nie geld is nie. Dan raak dit moord en doodslag.”
Hulle hoor heeltyd “dis mos hoekom julle kommissie kry” wanneer eienaars van hulle verwag om self te betaal om huise binne te laat oorverf of ander herstelwerk aan eiendomme te laat doen nadat huurders uitgetrek het.
Wanneer die huurgeld laat is, bel die agent die huurder. “Die huurder is dan woedend omdat jy bel en skel jou, want ‘wat moet hulle nou doen; hulle wag vir ’n betaling’. Jý weet wat die waarheid is nie. Jy moet maar sy woord aanvaar.
“ ’n Mens voel jammer vir albei partye, want daar is mense wat werklik sukkel.”
Indien huurders glad nie meer kan betaal nie, word dit ’n nare besigheid met die agent wat die slegste daarvan afkom.
“Jy kan aanmaningsbriewe van prokureurs af laat stuur, maar jy kan nie bloed uit ’n klip tap nie.”
verhoed uitsettings
Die agente doen vooraf hul huiswerk deur ’n voornemende huurder se agtergrond behoorlik na te gaan, wat verwysings en die trek van kredietrekords insluit. Dit kos geld en is juis om te verseker dat betroubare huurders in eienaars se eiendomme geplaas word. Die agentskappe hanteer ook die administrasie en kontrakte.
“Soms betaal huurders vir jare sonder om ’n enkele keer laat te wees en dan loop daar iets in hul lewe verkeerd, soos dat hulle afgelê word, en dan begin die moeilikheid. Dan sit jy as agent met die probleem. Nou is jy skielik sleg.
“Ons lewe in ’n land waar die landswette die huurder beskerm. Indien ’n huurder ophou betaal, moet eienaars ’n uitsettingsbevel ten duurste kry.”
Dit is iets wat min eienaars glo bereid is om te doen.
“My werk is dan om die uitsettingsbevel te verhoed en eerder die huurder op ’n menslike manier te kry om te trek.”
Al gaan agente uit hul pad om al die rolspelers gelukkig te hou, gaan dit soms te ver.
“Soos honde – dit is hoe mense ons soms behandel. Hulle weet nie of ek dalk ’n graad agter my naam het nie. As iets skeefloop, is jy die slegste agent nog. ’n Mens kan dit net tot op ’n punt doen. Dit is ’n sieldodende werk, want jy raak almal se slaaf.”
Verhuurders beskuldig hulle glo gereeld daarvan dat hulle “geld steel” en dat hulle nie die kommissie verdien nie.
Huureiendomme word soms oor onbenullighede vir ’n ander verhuringsagent gegee. Dit maak nie saak dat ’n agent al vir jare vir die betrokke eienaar agteroor gebuig het nie – dit ten spyte daarvan dat daar verhuurders is wat skaars die huureiendomme onderhou.
‘ ’n ondankbare werk’
“Dis ’n verskriklike ondankbare werk. Jy moet die hele tyd hoor hoe skelm jy is omdat jy kommissie kry. Mense besef nie hoe die verdeling van die kommissie werk nie.”
Agente in die Weskus kry in die meeste gevalle die helfte minus belasting van die kommissiebedrag wat maandeliks aan die eiendomsagentskap betaal word. “So, vir R300 per maand is ons die ‘skiewie’, die vloerlap wat almal tevrede moet hou.”
Verhuringsagente het nie ’n gewaarborgde inkomste – ’n vaste salaris – nie. “Ons moet hard werk om al die R100, R200 en R300-kommissies bymekaar te maak. Elke maand.”
Baie mense verkeer ook onder die indruk dat die agent verantwoordelikheid is om die huis en tuin skoon te maak as ’n huurooreenkoms ten einde loop. Dit is die huurder se plig.
Een agent vertel van huurders wat uitgetrek en die plek soos ’n varkhok gelos het. Die agent het dit op haarself geneem om die deposito en geld uit haar eie sak te gebruik om die plek te laat skoonmaak, sodat nuwe huurders kon intrek.
“Jy voel verantwoordelik.”
Die meeste verhuringsagente probeer net hul bes, al wil hulle elke tweede maand bedank. “ ’n Mens kry darem verhuurders en huurders wat jou regverdig behandel. Dit is lekker om saam met hulle te werk.”





