April word jaarliks aan Wêreld-outismebewusmakingsmaand toegewy.
Volgens Nadia van Schalkwyk, ’n onderwyser by Karitas Spesiale Skool in Vredenburg, is die grootste uitdaging aanvaarding deur die publiek. Van Schalkwyk werk al 10 jaar by Karitas en werk tans sewe jaar met leerders met outisme.
Van Schalkwyk meen baie mense in die samelewing is nie goed ingelig oor outisme nie. Sy noem die voorbeeld van ’n ma wat winkel toe gaan met haar kind, en die geraas of reuke in die winkel is dalk te veel, die kind kry ’n ineenstorting en dadelik dink die publiek die kind is stout en die ouer kan nie haar kind beheer nie.
“Outistiese kinders is baie sensitief. Sommige mense is selfs bang vir outistiese kinders, omdat hulle ook sukkel met gedragsuitdagings.”
Van Schalkwyk het tans nege leerders in haar klas. Dit is die aangewese maksimum aantal leerders wat in ’n outismespektrumklas mag wees, omdat elkeen individuele aandag nodig het en op sy of haar eie vlak is.
Van Schalkwyk sê sy het haar onderwysloopbaan as gr. 1-onderwyser by Diazville Primêr begin. “Leerders met spesiale onderwysbehoeftes wat oorgeplaas is na Karitas, het altyd my hart gesteel. Ek het altyd gewonder wat word van hierdie leerders; wat kan ek doen om hierdie leerders te help. Ek het eendag gaan inloer by Karitas om te kyk hoe hulle met die leerders werk, en daardie dag net daar geweet dit is waar ek hoort.”
Margitta de Jager, wat ook ’n onderwyser vir leerders op die outisme-spektrum by Karitas Spesiale Skool is, sê ook sy het nog altyd ’n spesiale liefde gehad vir kinders wat “anders” is. Vir De Jager het haar ma ’n groot invloed op haar gehad. As kind het sy beleef hoe haar ma parapleë afgerig het. “Ek het nog altyd gesê ek sal eendag met outistiese kinders wil werk. My gebed is verhoor. Hierdie kinders sien die lewe net anders. Hulle is so uniek in hul manier van dink en doen. Hulle moenie by jou aanpas nie – jy moet in hul wêreld aanpas.”
De Jager se hoop vir hierdie leerders is dat hulle beskou sal word as uniek en dat hulle deur die samelewing aanvaar sal word. “Die mens is so geneig om vinnig te oordeel, maar hierdie kinders kan jou baie lesse leer,” voeg De Jager by.
By die skool fokus hulle op D-Caps, ’n kurrikulum wat aangepas is vir leerders met spesiale behoeftes. Die leerders het ook elkeen hul eie onderrigplan. Soos Van Schalkwyk verduidelik, word elkeen anders behandel. “Party is verbaal; ander glad nie. Vir leerders wat nie verbaal is nie, maak ons gebruik van prente en Makaton, ’n soort gebaretaal.”
Om die kinders nog ondersteuning aan te bied, het die skool ’n ondersteuningspan wat bestaan uit ’n geregistreerde verpleegster, Freda Mentoor; ’n spraakterapeut, Cameron Linnert; en ’n arbeidsterapeut, Emalda Ellman.
Die terapeute is verantwoordelik vir terapeutiese ondersteuning en die verpleegkundige vir mediese ondersteuning van al die leerders by die skool asook dié op die outismespektrum. Die span ondersteun ook die satellietklasse by Diazville Primêr, Steenberg’s Cove Primêr, Hopefield Primêr en in Malmesbury.
’n Uitreikkliniek word een keer per maand aangebied vir kinders wat op die skool se waglys is.
Volgens die ondersteuningspan is dit belangrik om outismemaand te vier, sodat gemeenskappe bewus gemaak kan word van ander op die spektrum. Die span voeg by dat hy beoog om ’n ope dag tydens die bewusmakingsmaand by die skool te hou.
Van Schalkwyk sê as mense die moeite doen en regtig ’n kind met outisme leer ken, “sal hy/sy jou lewe verander”. “Dit is ongelooflik om te sien watter talente hulle het. Hulle het regtig ’n soort super power wat geen gewone mens het nie. As jy jou hart vir hulle oopmaak, steel hulle hom sonder om twee keer te dink. Nie een dag is dieselfde nie; dis soos om elke dag ’n lucky packet oop te maak.”
Van Schalkwyk sê sy haal haar hoed af vir elke ouer van ’n kind met outisme. “Julle is ongelooflik en julle verrig wondere.”





