ST. HELENABAAI – Die karkas van ‘n uiters seldsame grootbekhaai het Saterdag 22 Augustus in die dorp se hawegebied langs die Pioneer Fishing-visfabriek uitgespoel, nadat dit vir ‘n kort tydperk in die hawe rondgeswem het.
Weslander is deur die bekende omgewingsaktivis van Velddrif, Ettienne Swanepoel, van die voorval ingelig. Swanepoel, van die Sandveld Wildlife-sentrum (SWERF), is ook ‘n bekende slangvanger in die Weskus.
Die grootbekhaai (megamouth shark) is ‘n diepsee-haaispesie (megachasma pelagios) en word selde deur mense waargeneem. Dit groei tot vyf meter lank, en is naas die veel groter walvishaai en reuse-sonvis, die kleinste van die drie bestaande filtervoedende haaispesies.
Die spesie is herkenbaar aan sy groot kop met rubberagtige lippe.
Volgens kenners is slegs sowat 300 grootbekhaaie waargeneem of gevang sedert die spesie se ontdekking in 1976 en soos die ander twee planktonvretende haaie, swem die grootbekhaai met sy bek wyd oop en filtreer water om plankton en jellievisse te versamel.
Grootbekhaaie se dieet bestaan hoofsaaklik uit organismes, soos kril, jellievisse, garnaallarwes, klein kreefagtige diertjies en kraplarwes.

Die haaikarkas is by die visfabriek gestoor en twee senior navorsers van die Departement van Bosbou, Seevisserye en die Omgewing, Sarika Singh en Steven McCue, het vandag vanuit die Kaap gekom om die karkas te ondersoek. Monsters is geneem en sal by die departement se laboratoruim in Kaapstad bestudeer word om onder meer die moontlike oorsaak vir die vrekte te bepaal. Die karkas sal daarna begrawe word.
Volgens Singh is dit slegs die tweede grootbekhaai wat in Suid-Afrikaanse seegebied gevind is en is die karkas belangrike navorsingsmateriaal vir die departement.
Foto’s: Danie Hefers en Moejahied Taliep.














You must be logged in to post a comment.