Dit is vir die Saldanha Bay-hotel ‘n groot eer om as ‘n finalis in die KFM Best of the Cape-toekennings benoem te word.
Nadi Truter, bestuurder van die Saldanha Bay-hotel, sê hulle voel geëerd en baie opgewonde.
Volgens Truter is die hotel se grootste onderskeidingspunt die egte gasvryheid van sy personeel. “Ons kry gereeld komplimente oor die vriendelikheid van ons personeel en hoe hulle gaste met egtheid bedien en welkom laat voel. Dit, saam met ons idilliese ligging, maak ‘n kuier by ons uniek.”
Sy wys ook op die hotel se ligging in die hart van die Weskus, wat dit ‘n ideale basis maak om omliggende dorpe te verken.

“Ons is op die water se rand geleë met uitsigte oor die mosselvlotte en oesterplase, wat besoekers per boot vanaf die hawe kan besoek. Daar is ook baie om by die hotel self te doen.”
Truter beklemtoon dat die benoeming die hele streek bevoordeel. “Ons glo dat wanneer een in die dorp, of selfs op die Weskus, goed doen, doen almal goed. Om mekaar te ondersteun help almal op die ou end om beter te doen.”
Sy sê die hotel dra ook by tot die plaaslike ekonomie deur toeriste te lok, werksgeleenthede te skep en as gewilde venue vir troues en konferensies te dien.
“Baie dankie vir elke stem. Ons is trots om Saldanha te verteenwoordig en glo die blootstelling wat uit hierdie prestasie voortspruit, bevoordeel die hele Weskus – direk én indirek.”

Verskeie ander Weskus-ondernemings en bestemmings is ook finaliste in die Best of the Cape-toekennings:
- Darling Brew (beste plaaslike craft bier),
- Weskus-padstal (beste padstal),
- !Khwa ttu (beste toerisme- en erfenisbestemming),
- Groote Post Vineyards (beste wynplaas),
- Wright’s GIN (beste plaaslike drank), en
- Yzerfontein én Darling in die kategorie vir beste dorpie.
Lesers wat hul gunstelinge wil ondersteun, kan hier stem.
Stemme sluit op hierdie komende Donderdag (13 Augustus) om 19:00.




You must be logged in to post a comment.