Dream Builders South Africa ondersteun kinders deur sport en gemeenskapsprojekte.
Dream Builders South Africa ondersteun kinders deur sport en gemeenskapsprojekte.

Dream Builders skep werk én voed kwesbare kinders


WESKUS – ‘n Plaaslike nie-winsgewende organisasie maak ‘n verskil in die Langebaan- en Hopefield-omgewing deur volhoubare werksgeleenthede te skep en terselfdertyd kwesbare kinders van voedsame maaltye te voorsien.

Dream Builders South Africa, onder leiding van Albert van Niekerk, het ‘n gemeenskapshoutprojek in Papsakhoogte buite Hopefield gevestig. Dit verskaf tans werk aan agt inwoners.

Volgens Van Niekerk word hout by plaaslike boere versamel en na ‘n verwerkingswerf in Hopefield vervoer waar dit gekap, verpak en aan kleinhandelaars gelewer word. Werknemers word vir hul arbeid betaal, terwyl ‘n gedeelte van die wins teruggeploeg word in die organisasie se voedingsprogram.

“Ons fokus is daarop om volhoubare geleenthede te skep eerder as om net korttermynhulp te bied,” sê Van Niekerk.

Dream Builders South Afrika saam met kinders van Hopefield Mandela Dag. Foto: Brad Havenga
Dream Builders South Africa saam met kinders en die gemeenskap van Hopefield op Mandela-dag. Foto: Brad Havenga

Die voedingsprogram voorsien tans sowat 50 kinders in Langebaan en Papsakhoogte weekliks van voedsame maaltye. Die projek word deur skenkings van ondersteuners, asook Van Niekerk se eie bydraes, befonds.

Benewens die voedingsprogram werk Dream Builders South Africa saam met ouers, onderwysers, skoolhoofde, sportafrigters en gemeenskapsleiers om kinders se ontwikkeling te ondersteun en hulle aan te moedig om hul opvoeding te voltooi en aktief aan sport deel te neem.

“Ons doel is om jongmense te help om hul volle potensiaal te bereik en terselfdertyd sterker gemeenskappe te bou,” sê Van Niekerk.

Die organisasie het onlangs ‘n Mandeladag-geleentheid by die Hopefield-sportklub aangebied waar kinders deur sport en gemeenskapsdiens betrek is.

Dream Builders South Africa beplan ook om binnekort die kleinskaalse Papsakhoogte-gemeenskapsgroenteplaasprojek van stapel te stuur. Groente soos aartappels, uie, mielies en ander gewasse sal met behulp van ‘n beskikbare waterbron verbou word.

Volgens Van Niekerk sal die projek verdere werksgeleenthede skep en vars produkte aan die voedingsprogram sowel as die plaaslike gemeenskap voorsien.

Hy hoop groter openbare bewusmaking sal meer betrokkenheid en vennootskappe aanmoedig sodat die organisasie sy projekte verder kan uitbrei en nog meer gesinne kan ondersteun.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 6 August 2026
    Weslander E-Edition – 6 August 2026

Gift this article