LANGEBAAN – Vyf mense is verlede Donderdag in die Hopefield-landdroshof in verband met die moord op Clarence Persival Pietersen (30) aangekla.

Drie mans, tussen die ouderdomme van 38 en 30 jaar, en twee vroue, 37 en 30 jaar oud, het in die hof verskyn. Die 37-jarige vrou is ook van meineed aangekla.

Pietersen is Vrydagaand 28 Augustus omstreeks 18:50 in Vygiestraat, naby sy woonplek, doodgeskiet.

Volgens kapt. Tania Helfrich, distrikspolisiewoordvoerder vir die Weskus-polisie, was Pietersen kort voor die skietery in ’n stryery met sy vermeende moordenaar betrokke.

Pietersen is in die onderonsie doodgeskiet, waarna die verdagte met die vuurwapen van die toneel gevlug het.

’n Verdagte in die moordsaak het hom die daaropvolgende Sondag, 30 Augustus, aan die polisie oorgegee.

Die provinsiale moord-en-roof-eenheid ondersoek die saak. Tydens hul ondersoek is die moordverdagte se 37-jarige meisie ondervra. Sy het ’n verklaring afgelê.

Die ondersoek na die omstandighede rondom Pietersen se dood en die onderskeie rolle van die vyf verdagtes duur voort.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 3 September 2026
    Weslander E-Edition – 3 September 2026

Gift this article