Die eerste salaris is vir baie jongmense ’n opwindende mylpaal, maar dit bring ook belangrike vrae oor hoe geld verantwoordelik bestuur moet word. ’n Inligtingsessie oor geloof en geld word op Donderdag 10 September om 18:00 aanlyn deur Solidariteit Helpende Hand aangebied.
Die God en Geld-sessie, aangebied deur Wilco Naumann, ’n finansiële adviseur, is daarop gerig om jongmense met praktiese kennis oor persoonlike geldsake toe te rus.
Die gesprek is veral bedoel vir studente wat binnekort begin werk, jongmense wat pas hul eerste werk gekry het, asook enigiemand wat voel dat hul geldsake beter bestuur kan word.
Onder meer sal daar gekyk word na hoeveel ’n mens behoort te spaar en hoe en waar om daarmee te begin. Belasting en wat ’n mens oor SARS behoort te weet, sal ook bespreek word.
Deelnemers sal verder leer hoe om ’n begroting op te stel wat by hul inkomste pas en hoe om verantwoordelik met geld om te gaan sonder om elke maand finansieel vasgekeer te wees.
Die sessie plaas egter nie net die klem op geldbestuur nie. Daar sal ook gekyk word na die rol van God en geloof in die manier waarop ’n mens geld verdien, bestee, spaar en bestuur.
Volgens die organiseerders gaan dit nie oor ingewikkelde finansiële begrippe nie, maar oor eenvoudige en praktiese beginsels wat jongmense kan help om van die begin af goeie finansiële gewoontes aan te leer.
Die boodskap is dat ’n eerste salaris nie die eindpunt is nie, maar die begin van ’n mens se finansiële pad. Deur van vroeg af verantwoordelik te leer spaar, beplan en bestee, kan jongmense ’n stewiger grondslag vir die toekoms lê.
Toegang tot die sessie kos R50 per persoon. Kaartjies is beskikbaar by www.onskoopplek.co.za.
Vir meer inligting kan Alisha by 082 923 1438 gekontak word.





