Solidariteit Helpende Hand Wes-Kaap beplan om op Woensdag 16 September ‘n Seniors Ekspo vir die Weskusstreek aan te bied.
Die geleentheid vind plaas in die kerksaal van die NG kerk Langebaan en het ten doel om die gemeenskap bewus te maak van die uitdagings, dienste en ondersteuningsnetwerke wat vir senior burgers beskikbaar is.
Eensaamheid, finansiële uitdagings, behoorlike finansiële beplanning en sekere mediese toestande is, volgens navorsing wat deur Solidariteit Helpende Hand gedoen is, van die grootste kwessies waarmee bejaardes daagliks te make het.
Die Seniors Ekspo wil hierdie en ander relevante onderwerpe aanpak deur senior burgers die geleentheid te bied om meer te leer oor beskikbare dienste, produkte en ondersteuning wat spesifiek op hul behoeftes gerig is.
Benewens die uitstallings sal verskeie sprekers ook tydens die ekspo optree.
Hulle sal insig bied oor onderwerpe wat van belang is vir ouer mense en hul familie.
Solidariteit Helpende Hand nooi plaaslike ondernemings, organisasies, instellings en nie-regeringsorganisasies uit om deel te word van die inisiatief. Deur betrokke te raak, kan hulle help om ‘n positiewe verskil in die lewe van senior burgers oor die Saldanhabaai-gebied heen te maak.
Vir navrae of om uitstalruimte te bespreek, kan belangstellendes vir Mariëtte Roos, Streekorganiseerder van Helpende Hand in die Weskus, kontak by marietteroos@helpendehand.co.za of Lizelle de Jager, maatskaplike werker, by lizelledj@helpendehand.co.za.





