Marley Filander (25) se moordsaak is voorverlede Donderdag (11 Junie) weer in die Vredenburg-landdroshof aangehoor.

Marley se lyk is op Saterdag 23 Augustus laasjaar omstreeks 07:30 op ‘n stuk oop veld naby die die Hoërskool Weston in Pikkewynstraat, Louwville, gevind.

Volgens die hof is die saak uitgestel om ‘n datum te bepaal waarop die saak teen Anthony Rhodes (24) en Jean-Claude Goliath (21) in die streekshof kan begin.

Kapt. Tania Helfrich, distrikswoord- voerder vir die Weskus-polisie, het destyds bevestig dat die Vredenburg-polisie Rhodes en Goliath op Vrydag 5  September 2025 in hegtenis geneem het. Hulle het Maandag 8 September 2025 die eerste keer op ‘n aanklag van moord in die hof verskyn.

Marley se pa, Marshall Filander, sê sy seun se dood en die verloop van die hofsaak bly ‘n swaar reis vir die familie.

“Dinge is nie meer dieselfde nie, en die verlange sal altyd daar wees. Partykeer wens ek net hy kan aan die deur klop sodat ek sy gesig kan sien. Party dae gaan dit swaar, maar mens moet ook weet die lewe gaan aan. Ek vertroos my daarin dat die waarheid gaan seëvier en in die hof sal uitkom. Ek voel daar is nog hoop.”

Marshall bedank die speurtak vir hoe hulle harde werk. Die saak sal weer voor die streekhof dien op die datum wat deur die hof bepaal sal word.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 25 June 2026
    Weslander E-Edition – 25 June 2026

Gift this article