LANGEBAAN – ‘n Unieke en leersame Seniors Ekspo-geleentheid, wat daarop gemik was om senior burgers in die Weskus en Saldanhabaai-streek te bemagtig, en bewus te maak van die dienste, produkte, ondersteuning en geleenthede wat plaaslik beskikbaar is om hulle lewenskwaliteit te verbeter, is vandag (16 September) in Langebaan gehou.
Dit is deur Solidariteit Helpende Hand se Wes-Kaapstreek in die NG-kerksaal in die dorp aangebied.
Volgens een van die organiseerders, Lizelle de Jager, is dit die eerste keer dat ‘n Seniors Ekspo in die Weskusstreek gehou is. De Jager is ook ‘n maatskaplike werker by Helpende Hand.

“Ons is baie tevrede met die opkoms. 47 Uitstallers het verskeie produkte en dienste vir ons bejaardes kom bemark en aangebied. Dit sluit in mediese hulp, finansies, sekuriteit en hulpmiddels wat ‘n senior mag benodig. Jy hoef nie in jou huis te sit en alleen te wees nie. Jy kan uitkom en mense ontmoet en dinge doen. Dit was die hoofdoel van die geleentheid. Ons is nie ‘n kospakkie-organisasie nie. Ons wil ‘n volhoubare verskil maak en gemeenskappe ontwikkel.”
Volgens Ds. Hannes Noëth, die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, fokus die organisasie op drie kwesbare groepe, naamlik bejaardes, kinders en gestremdes.
“Ons is ‘n gemeenskapsorganisasie wat sterk werk met netwerke. Ons glo dat ‘n gemeenskap so sterk is soos die krag wat hy in hom het en wat hy self ontwikkel.”
Helpende Hand is ‘n nie-winsgewende organisasie met 230 takke in 15 streke landwyd. Sewe takke is in die Wes-Kaap se Weskusstreek.
Vandag se Ekspo-program in die Weskus het ook insiggewende en waardevolle aanbiedings en gesprekke vir bejaardes oor onderwerpe soos depressie en dementia ingesluit.
“Bejaardes is nie net mense van gister nie. Hulle het nog ‘n geweldige groot rol om te speel in gemeenskappe. Bejaardes kan nog vandag ‘n roeping uitleef en ‘n verskil maak,” sê Ds. Noëth.
Blaai gerus deur die foto-galery deur Danie Hefers.






















You must be logged in to post a comment.