ST HELENABAAI – Oud-inwoners van Midwest het op Saterdag 3 Oktober tydens die eerste Midwest-reünie bymekaargekom om hul gedeelde geskiedenis te herdenk en kosbare herinneringe aan hul geliefde gemeenskap lewend te hou.
Die geskiedkundige byeenkoms is op die strand naby die gebied waar hul geliefde woonplek eens was, gehou.
Die dag se program het onder meer ‘n kranslegging op die see ter nagedagtenis van afgestorwe inwoners, die voorlees van die name van oorledenes en herinneringe wat deur ouer inwoners gedeel is, ingesluit.
‘n Skaalmodel-uitbeelding wat deur Elton Lesch gebou is, is ook uitgestal en het bygedra tot die herinneringe aan die gemeenskap se verlede.
Jean Erasmus, organiseerder van die reünie, het gesê hy is baie tevrede met die besondere wyse waarop die dag verloop het.
Erasmus sien daarna uit dat die reünie in die toekoms weer aangebied word.





