PIKETBERG – Wat as ‘n gesprek tussen twee gesoute jeugleiers en vriende begin het, het in ‘n gemeenskapsplatform ontwikkel wat vandag deur meer as 40 000 mense gevolg word.
Denver Adams en Jerome Smit, die twee dryfvere agter die Facebook-blad, Praat Saam Piketberg, het in hul jonger dae reeds ‘n passie gehad om by die gemeenskap betrokke te wees. Jare later het hul paaie weer gekruis toe Jerome na Piketberg teruggekeer het.
Volgens Adams het die twee een Sondagmiddag tot bo die dorp gery en oor Piketberg uitgekyk. Dit was hier waar die idee ontstaan het om iets tot hul dorp by te dra. “Ons het daar die idee gekry om ‘n nuusblad vir Piketberg te begin,” vertel hy.
Die Facebook-blad is in 2021 begin en het aanvanklik stadig gegroei. Hulle het die blad met vriende en familie gedeel en mense aangemoedig om dit te volg.
Smit sê hy is van die begin af deur Adams gemotiveer om die idee ‘n werklikheid te maak. Vir Smit was dit nie sy eerste poging om gemeenskapsnuus te versprei nie. Hy het in die verlede JR’s Newspaper, ‘n koerantjie wat by ‘n skool uitgegee is, bestuur en later ook Piketberg Online bedryf. “Dit is vir my belangrik om inligting deur te gee aan ons gemeenskap en Facebook laat my toe om dit te kan doen,” sê hy.
Van matrikafskeid tot gebeure in gemeenskap
Praat Saam Piketberg het mettertyd ‘n platform geword waar inwoners onder meer gemeenskapsgebeure, matriekafskeide en sosiale byeenkomste kan volg.
Een van die redes vir die blad se gewildheid is volgens Adams die feit dat mense wat nie altyd by geleenthede kan wees nie maar steeds deur middel van Facebook deel daarvan kan wees.
Matriekafskeide is volgens hom jaarliks ‘n groot trekpleister, aangesien inwoners graag die leerders wil sien.
Die blad se dekking van die moord op Natasha Booysen is een van die gebeure
wat ‘n groot indruk op Jerome gemaak het. “Dit was ‘n gebeurtenis wat nie net haar familie en vriende geraak het nie, maar al ons mense,” sê hy.
Volgens Smit het die storie ook belangstelling van mense buite Suid-Afrika gelok, met navrae en boodskappe van mense in die buiteland wat die gebeure gevolg het.
Adams beklemtoon dat hulle probeer om hul rol en grense te verstaan wanneer hulle oor sensitiewe gebeure berig en ruimte laat vir professionele joerna- liste om hul werk te doen.
Vandag het die blad meer as 40 000 volgelinge, met 50 000 as die volgende groot doelwit.
Jerome sê hulle het vroeg reeds geglo die blad kan die voorste Facebook-gemeenskapsblad in die area word.
Volgens albei gaan Praat Saam Piketberg oor nuus, maar dit het ook ‘n digi- tale gemeenskapsruimte geword waar Piketbergers hul mense, stories, vreug- des en hartseer met mekaar – en met mense ver buite die dorp – kan deel.
“Op hierdie manier het ons ons dorp eintlik bekendgestel aan die res van ons land en aan die res van die wêreld,” sê Smit.





