Norman wys van die items in sy tuin wat volgens hom elkeen ’n eie Weskus-storie vertel. Foto: Danie Hefers
Norman wys van die items in sy tuin wat volgens hom elkeen ’n eie Weskus-storie vertel. Foto: Danie Hefers

‘Tuin van Eden’ vertel unieke Weskus-stories

Norman wys van die items in sy tuin wat volgens hom elkeen ’n eie Weskus-storie vertel. Foto: Danie Hefers
Norman wys van die items in sy tuin wat volgens hom elkeen ’n eie Weskus-storie vertel. Foto: Danie Hefers

ST HELENBAAI – Terwyl die Weskus deesdae behoorlik uit sy ontwikkelingsnate bars, en nuwe woonhuise soos paddastoele langs dié snelgroeiende dorp se Langpad opskiet, bou ‘n afgetrede Agterbaaier geduldig, en met hope passie en omgee vir die gemeenskap se soms byna vergete geskiedenis van weleer, aan sý persoonlike “Tuin van Eden”.

En net soos die bekende Bybelse tuin van Genesis, is Norman February se stukkie selfgeboude aardse paradys sý persoonlike ruimte waar hy vrede vind. Dit is gevul met kosbare herinneringe en skep ‘n rustige atmosfeer waar dié passievolle Weskusser se handewerk en kreatiwiteit visueel floreer.

Norman February in sy selfgeboude “Tuin van Eden” in St Helenabaai. Foto: Danie Hefers
Norman February in sy selfgeboude “Tuin van Eden” langs die Langpad in St Helenabaai, waar hy Weskusgeskiedenis deur sy versameling en handewerk bewaar. Foto: Danie Hefers

Weslander het by Norman, ‘n afgetrede vlootoffisier, gaan kuier waar sy Tuin van Eden vlak langs die bedrywige dorpspad in die Columbine-woonbuurt geleë is.

Soos menige Weskusser is hy ‘n storieverteller wat geskiedenis kleurvol en interessant met behendige woordgebruik aan gewillige besoekers opdis. “Ek verkoop eintlik die Weskusstorie. Dit is my main produk”, vertel Norman met trots.

Volgens hom wil hy die Weskus se geskiedenis uitbeeld en help bewaar. “Ons het ‘n ryk geskiedenis. Elke dingetjie wat hier uitgestal word, het ‘n storie. Die ou foto’s in historiese vensterrame, kleurvolle geverfde bottels, plantpotte en skulpwerke. Hier is iets vir almal.

“Die bank wat jy dáár sien se houtplanke kom van Jacobsbaai waar dit vir dertig jaar gelê het. Alles het te doen met die Weskus en die see.”

Die 62-jarige Norman is in Columbine, naby die meer bekende Stompneusbaai- en Midwest-woonbuurtes, gebore in ‘n tydperk toe kreef nog vollop en “oorvloedig” was in die Agterbaai.

Sy latere loopbaan in die Suid-Afrikaanse Vloot het hom na weermagbasisse regoor die land geneem, voordat sy lewenspad hom weer terug Weskus toe gelei het.

BLAAI DEUR DIE FOTO’S DEUR DANIE HEFERS:
  • Norman wys van die items in sy tuin wat volgens hom elkeen ’n eie Weskus-storie vertel. Foto: Danie Hefers
  • Norman February in sy selfgeboude “Tuin van Eden” langs die Langpad in St Helenabaai, waar hy Weskusgeskiedenis deur sy versameling en handewerk bewaar. Foto: Danie Hefers

“Ek het in 2017, ná my pa se afsterwe, uiteindelik teruggekeer na St. Helenabaai toe. Dit was ‘n belofte wat ek aan myself gemaak het, want dit is waar my energievlakke lê. My drome. Wat ek nou doen, is my tweede loopbaan.”

Volgens Norman het sy produkte nie vasgestelde pryse nie. “Kopers en besoekers moet onderhandel oor die prys. Ek vertel vir hulle die geskiedenis, die storie en oorsprong van alles wat hier uitgestal is. Jy betaal dan die prys van die produk se geskiedenis, want as jy die geskiedenis ken, kry die produk vir jou waarde.”

En in die Agterbaai se Tuin van Eden langs St. Helenabaai se bedrywige nuwe Langpad, word niks toegesluit óf saans weggebêre nie. “Dit word nie gesteel nie. Die engele bewaar en beskerm my Eden. Almal weet dit is Norman se plek.

“Ek is gelukkig met my Eden. Ek is opgewonde, want dit gee my lewe. Hoe nader ek aan die natuur is, hoe gelukkiger is ek.”

LEES OOK: Weskusser vereer vir lewenslange erfeniswerk

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 15 October 2026
    Weslander E-Edition – 15 October 2026

Gift this article