GOEDVERWACHT – Toerismemaand in die Weskus is vandag amptelik in Goedverwacht, ‘n sendingdorpie in die berge naby Piketberg geloods.
‘n Nuwe toeriste-aantreklikheid, die Groen Piketbergroete 366, is ook tydens dié geleentheid amptelik geopen.
Benewens dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse Minister van Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, is die funksie in Goedverwacht ook bygewoon deur onder meer verteenwoordigers van munisipaliteite, toerismebeamptes, sakelui en plaaslike inwoners.

‘n Gedenk-boomplanting is in die plaaslike gemeenskapstuin gehou, waarna ‘n uitgebeide toer van die Groen Piketberg-roete 366 onderneem is. Dié reis het besoeke aan die Piketberg Historiese Roete, ‘n plaas-tot-tafel-middagete by die Piekenierskloof-bergoord en ‘n teeproe-ervaring by Carmién Tea ingesluit.
Volgens Dr. Meyer is Toerismemaand ‘n geleentheid om te wys hoe toerisme gedeelde waarde vir gemeenskappe, die omgewing en die ekonomie kan skep.
“Die Groen Piketberg-roete 366 toon dat toerismegroei nie ten koste van plaaslike mense of natuurlike hulpbronne hoef te wees nie. Deur vernuwende toerisme te ondersteun, bou ons bestemmings wat outentiek, volhoubaar en inklusief is, terwyl ons geleenthede skep vir klein ondernemings, boere en gemeenskappe om direk by besoekers se besteding baat te vind.
‘n Boom is ‘n kragtige simbool van groei. Die Wes-Kaap is toegewyd om die provinsie se toerismebedryf te laat groei.”
Volgens Merle Ditrich, ‘n plaaslike gemeenskapswerker, ondersteun toerisme vroue in Goedverwacht danksy voordelige samewerkings-ooreenkomste tussen produsente van vars produkte en verskeie toerismeondernemings.
Sy is nou betrokke by die dorp se Tienvoet-gemeenskapstuin en het die nuwe Groen Piketbergroete 366 verwelkom met die hoop dat dit meer besoekers en toeriste sal lok.
“Die verhouding van tuin-tot-tafel demonstreer vernuwende toerisme in die praktyk en verseker dat besoekers se besteding geleenthede binne die gemeenskap skep. Mense kan ook bome in ons tuin kom plant en met gereelde besoeke kom kyk hoe dit groei.”
Die Wes-Kaapse regering glo dat die bekendstelling van Toerismemaand in Goedverwacht, en ‘n reis deur die breër Piketberg-landskap, ‘n model in die Wes-Kaapse toerismesektor sal skep en vier, waarin toerisme meer doen as om net besoekers te lok.
Volgens Wrenelle Stander, die uitvoerende hoof van Wesgro, moet meer geleenthede vir besoekers geskep word om die diepte en diversiteit van die provinsie se bestemmings te ontdek.
“Ons moet verseker dat die voordele van toerisme die gemeenskappe en ondernemings bereik wat ons provinsie so besonders maak. Groen Piketberg-roete 366 is ’n kragtige voorbeeld van hoe toerisme besoekers met outentieke ervarings, plaaslike ondernemings, landbou en erfenis kan verbind. Namate ons toerisme regoor die provinsie uitbrei, fokus ons daarop om ‘n meer inklusiewe en veerkragtige besoekersekonomie te bou waarin toerisme blywende waarde skep vir sowel die mense wat hier woon as die mense wat hierheen kom om dit te ervaar.”
Die amptelike toerismedag is op 27 September en in Suid-Afrika word September ook as Erfenismaand gevier.
Toerismemaand 2026 word vanjaar internasionaal gevier met die tema: “Digitale Agenda en Kunsmatige Intelligensie om Toerisme te Herontwerp.”
























You must be logged in to post a comment.