Die gordyn het gesak ná ‘n gebeurtenisvolle en suksesvolle eerste dag by Afrika se Reis-indaba 2026, met die Weskus wat ‘n sterk indruk op plaaslike en internasionale toerismebelanghebbendes gemaak het.
Vir die Wes-Kaapse afvaardiging, insluitend Wesgro, Weskus Toerisme en ander vennote wat deel vorm van die Wesgro Expo-uitstalling het die dag nuwe sakegeleenthede, vennootskappe en samewerking opgelewer wat daarop gemik is om die streek se toerisme-ekonomie te laat groei.
Ivan Meyer, die Provinsiale Minister van Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme in die Wes-Kaap, het die Wes-Kaapse uitstalling amptelik geopen.
Tydens die opening het die provinsie ook ‘n afvaardiging van Indië bekend gestel wat ná die Indaba deur Kaapstad en omliggende streke sal toer.
Jacqulene Melenephy, verantwoordelik vir bestemmingsbemarking by die Weskus-distriksmunisipaliteit, het uitgelig waarom die Weskus homself steeds as een van die snelsgroeiende toeristebestemmings in die provinsie posisioneer.
“Ons het diverse toerisme-aanbiedings en streef beslis daarna om ons internasionale en plaaslike voetspoor te vergroot. Ons is veel meer as net ‘n seekos- en avontuurstreek. Voëlkyk, rotsklim, wyn en blomme; noem maar op,” het Melenephy gesê.
Die lintknip-seremonie by die Wes-Kaapse Ekspo-uitstalling het die amptelike begin van drie dae van toerisme-netwerkvorming, betrokkenheid en samewerking aangedui, gefokus op die ontsluiting van nuwe geleenthede en die versterking van die Weskus-ekonomie.




