Die Weskus-distriksmunisipaliteit (WDM), in vennootskap met Wesgro, het onlangs ‘n afvaardiging van Indiese mediaverteenwoordigers wat die Betway SA20-krieketkompetisie gedek het, blootgestel aan die diverse toerisme-aanbiedinge van die Weskus-streek.
Die besoek het ten doel gehad om die gebied se unieke besiens- waardighede te vertoon terwyl die ekonomiese waarde van groot sportgeleenthede buite die gasheerstede versterk is.
Terwyl Betway SA20-wedstryde in die Wes-Kaap in Kaapstad en die Paarl aangebied is, het die mediaprogram doelbewus na die Weskus uitgebrei. Dit het deel gevorm van ‘n breër strategie om te demonstreer hoe grootskaalse geleenthede toerisme-oorloopgeleenthede vir omliggende bestemmings skep.
Die besoekende joernaliste, almal eerstekeer-besoekers aan die Weskus, het ‘n saamgestelde bekendstellingsprogram ervaar wat die streek se toerisme-, kulturele en natuurgebaseerde bates uitgelig het.
Volgens Heinrich Robertson, verantwoordelik vir bestemmingsbemarking by die Weskus-distriksmunisipaliteit, speel geleenthede van hierdie omvang ‘n groot rol in die versterking van die streek se toerismewaardeketting.
“Groot sportgeleenthede dryf die vraag ver buite die stadions. Die Weskus trek voordeel uit besoekers wat alternatiewe ervarings voor en ná wedstryddae soek en plaaslike verblyfplekke, besienswaardighede, toeroperateurs en klein besighede onder- steun,” sê Robertson.
‘n Besoek aan die !Khwattu Natuurreservaat het die streek se ryk kulturele en erfenisaanbiedinge beklemtoon en versterk die Weskus se posisionering as ‘n aanvullende bestemming tot Kaapstad.
Met maklike toegang en unieke besoekerservarings is die streek goed geplaas om geleentheidsgedrewe reise in langer verblyf en verhoogde streeksbesteding te omskep.
Die media-afvaardiging het ook die bekende Kloovenberg-wynlandgoed en Eight Feet Village in die Riebeekvallei besoek, wat die Weskus se diverse leefstyl-, kulinêre en agritoerisme-aantrekkingskrag verder vertoon het.





