Sang en musiek was nog altyd ‘n deel van Jancke Smit se lewe. Dié 16-jarige leerder van die Hoërskool Hopefield kom uit ‘n musikale familie wat haar aangemoedig het om haar passie te volg. Haar liefde vir sang het mettertyd het net al meer gegroei.

“As ek een prestasie moet kies wat vir my uitstaan, is dit definitief toe ek in 2025 die geleentheid gekry het om in Spanje aan ‘n internasionale kompetisie, wat verskeie uitvoerende kunste dek, deel te neem. Van my 2026-prestasies sien ek baie uit na die uitnodiging van die Kunstevereniging van Suid-Afrika, waar ek die geleentheid kry om in Maart by Emperors Palace op te tree en waar ek ‘n kans staan om ‘n beurs vir my sang te kry. Nog ‘n prestasie is my vier goue medaljes by die Stars of the Universe-kompetisie, met ‘n uitnodiging na Georgië in Europa in Oktober.”

Volgens Smit beteken hierdie prestasies baie vir haar – veral omdat sy haarself met ander vergelyk het. “Toe ek in Spanje was, het ek konstant gevoel asof ek nie goed genoeg is teenoor my mededingers nie, maar toe ek daai pryse wen, het dit gevoel asof ek ook verdien om daar te wees. Die idee dat ek deur internasionale kenners beoordeel is, het vir my as bewys gedien dat ek werklik goed genoeg is. Die prestasies het vir my soveel meer beteken as net ‘n medalje of ‘n sertifikaat aan die muur. Dit het ‘n groot verandering gebring in die manier waarop ek gedink het.”

Met die toekoms wat voorlê, beoog Smit om nie sang ‘n voltydse loopbaan te maak nie, maar wel ‘n groot deel van haar lewe. Sy het ‘n belangstelling in sielkunde en wil graag sang as terapie gebruik om ander te help. “Ek wil graag my liefde en passie vir musiek gebruik om ander te inspireer en ek wil graag my eie liedjies probeer skryf en opneem.”

Vir 2026 is Smit reeds genooi om aan Talent America in New York deel te neem. Sy het ook ‘n uitnodiging deur die Nasionale Eisteddfod-instituut ontvang om die Young Performers Awards in Mei by te woon. Sy het ook weer eens die geleentheid gekry om Spanje toe te gaan en nog vele meer.

“Hopelik hou 2026 net soveel goeie oomblikke soos 2025 in. My geleenthede en hoe ver ek gekom het, is alles te danke aan my goeie ondersteuningstelsel en die Here wat my hierdie talent gegee het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article