AB Henkelman van die Darling-krieketklub spring van opgewondenheid nadat hy ‘n 100-tal teen Hopefield Wanderers gemoker het. Hy is uiteindelik met sy telling op 140 uitgevang. Foto: David Rossouw

Die Darling-krieketklub het die Hopefield Wanderers die afgelope Saterdag (7 Februarie) op die Darling-krieketveld oorwin. Wanderers het die loot gewen en Darling ingestuur om eerste te kolf.

Darling se openingskolwers, AB Henkelman en Fernin Hoogbaard, het die wedstryd met ‘n stewige vennootskap van 128 lopies vir die eerste paaltjie begin. Hoogbaard is eerste uit met 61 lopies van 72 balle, insluitend vyf viere.

Henkelman, die kolwer van die dag, het ‘n briljante 140 lopies van 164 balle gemoker, wat 11 viere en vyf sesse ingesluit het.

Die middelorde het gemengde bydraes gelewer: Sergio Thomas is vir nege lopies deur A. Makka geboul en uitgevang, terwyl Sergio Rooms 39 lopies van 44 balle aangeteken het (vier viere) voordat hy deur Kok geboul is. Toe Henkelman uiteindelik naby die grens op 140 uitgevang is (met Darling se telling op 259 in die 49ste boulbeurt), het die tuisspan ‘n stewige telling gehad. Darling se beurt is op 265/4 ná sy toegelate 50 boulbeurte afgesluit, wat Wanderers ‘n teiken van 266 lopies gelaat het.

Die Wanderers kon egter nie die teiken haal nie en is in net 129 minute vir 130 lopies uitgeboul. Darling se boulers was in ‘n verwoestende bui, met F. Hoogbaard as die verwoester van die bal. Hy het uitstekend geboul en in 9.1 boulbeurte uitgeblink deur 5/43 te neem, terwyl L. Beukes vier paaltjies in sy 10 boulbeurte vir 51 lopies geneem het. D. Sringer het ook bygedra met een paaltjie vir 20 lopies in sy ses boulbeurte.

Met hierdie oortuigende oorwinning het Darling nie net die wedstryd gewen nie, maar ook ‘n bonuspunt verdien en is nou net nege punte agter Malmesbury, die huidige voorloper, wat ‘n ruskans gehad het. Met nog drie wedstryde oorstuur die Boland-Wes-liga op ‘n opwindende einde af, met Malmesbury as voorloper en Darling wat sterk druk toepas.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article