Ryeleigh Jesse Lentz van Langebaan Strandlo- pers-atletiekkklub het verlede jaar die 10 km-wedloop in die Saldanha Health Run 2025 gewen. Foto: Bridget Ann Linderoth.

Haal draf- en stapskoene uit

Ryeleigh Jesse Lentz van Langebaan Strandlo- pers-atletiekkklub het verlede jaar die 10 km-wedloop in die Saldanha Health Run 2025 gewen. Foto: Bridget Ann Linderoth.

Die gewilde Saldanha Health Run het in net drie jaar gegroei van ‘n klein plaaslike byeenkoms tot een van die Weskus se groot wintersportgeleenthede – van 170 tot meer as 1 200 deelnemers.

Vanjaar vind die Health Run op Saterdag 20 Junie by die Weskusskool in Saldanha plaas.

“In 2023 het die eerste Saldanha Health Run, nogal in die reën, sowat 170 deelnemers oor die 5 km-, 10 km- en 21,1 km-afstande gelok,” sê Leonie Vorster, een van die organiseerders.

“Die geleentheid het onmiddellik ‘n positiewe indruk gemaak met sy unieke Weskus-atmosfeer, veilige roetes en vriendelike gemeenskapsgees.”

Teen 2024 het die byeenkoms dramaties gegroei na sowat 580 deelnemers – ‘n bewys van hoe vinnig die wedloop se gewildheid opgebou het.

“Die resies het nie net atlete van die Weskus gelok nie, maar ook deelnemers van Kaapstad en ander dele van die Wes-Kaap. Die positiewe terugvoer oor die organisasie, natuurskoon en gasvryheid het die naam van Saldanha verder versterk,” sê Vorster.

“In 2025 het die Saldanha Health Run nóg ‘n groot sprong gemaak met 1 257 deelnemers wat aan die wedloop deelgeneem het. Die geleentheid het verskuif na die SAS Vlootbasis en was ‘n reuse sukses, maar met parkeringsprobleme het ons besluit om die wedloop vanjaar eerder na die Weskusskool te skuif en ons sien baie daarna uit.”

Volgens Vorster sal al drie roetes vanjaar met die pragtige uitsig oor die baai vanaf Merestynstraat begin. “Deelnemers hardloop verby ons gunstelingbesighede, hotelle en ons pragtige waterfront. Dit wys duidelik dat die geleentheid besig is om ‘n gevestigde item op die Wes-Kaapse hardloopkalender te word.”

Sy meen die wedloop hou nie net sportiewe voordele in nie, maar dra ook by tot plaaslike toerisme en ekonomiese groei. “Buiten die sportiewe sukses is die wedloop ook waardevol vir plaaslike toerisme, besighede en gemeenskaps-ontwikkeling.”

Volgens Vorster lê die grootste sukses van die geleentheid egter in die atmosfeer wat dit gedurende die wintermaande skep.

“Dis ‘n positiewe atmosfeer in die hartjie van die winter – mense van alle ouderdomme kom saam om gesondheid, gemeenskap, familiepret en die unieke skoonheid van Saldanha te vier. Dit lok ook toerisme na ons area gedurende die stilste tyd van die jaar.”

Deelnemers word aanbeveel om vroegtydig aanlyn in te skryf, vóór Sondag 7 Junie, om teleurstelling te voorkom.

“Verlede jaar se inskrywings het alle verwagtinge oortref en laatkommers kan moontlik dié gewilde geleentheid misloop,” waarsku Vorster.

“Maak ook seker jy bestel jou eksklusiewe hardloop-items betyds – van die gewilde T-hemp of kappie (hoody), tot die unieke lyfsak wat reeds groot belangstelling lok.”

 ◘Hou die Saldanha Health Run se Facebook-blad (Facebook.com/saldanha.health.run) dop vir gereelde samewerkingsplasings, opdaterings en nuus.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 28 May 2026
    Weslander E-Edition – 28 May 2026

Gift this article