Winterreën bring nie net koue en modder nie, maar ook groter risiko’s vir troeteldiere se velgesondheid. Een van die grootste oorsake van velprobleme in die nat seisoen is iets wat baie eienaars miskyk: klam slaapareas.
Wanneer honde of katte vir lang tye op nat komberse, karton of koue sement lê, bly hul vel en pels konstant klam.
Dit skep die ideale omgewing vir bakterieë en swamme om te groei.
Die gevolg is dikwels pynlike velontstekings of sogenaamde “jeukplekkies”.
Jeukplekkies begin gewoonlik klein. Jou hond kan dalk aanhoudend aan een plek lek of krap. Binne ‘n kort tydjie kan dit verander in ‘n rooi, nat en seer wond wat vinnig versprei. Langharige honde is meer vatbaar omdat hul pels langer nat bly, maar enige troeteldier wat gereeld nat of vuil is, loop risiko.
Baie troeteldiere slaap buite in hokke of op stoepies. Ná swaar reën word komberse en karton dikwels nat en bly dit vir dae klam.
Selfs ‘n klein lek in ‘n hok of wind wat reën inwaai, kan veroorsaak dat jou troeteldier heelnag in vogtige toestande slaap.
Die beste voorkoming is om seker te maak jou dier het altyd ‘n droë, beskutte slaapplek. Kontroleer gereeld komberse en beddegoed en vervang of maak dit droog sodra dit nat word. Indien moontlik, lig beddegoed effens van die grond af om vog weg te hou.
Modderige pote kan ook probleme veroorsaak. Modder en vuiligheid bevat bakterieë wat tussen tone vasklou en irritasie veroorsaak. Ná wandelings of speeltyd in nat toestande, vee jou hond se pote af en kyk vir rooiheid of seer kolle.
As jou hond baie nat geword het, droog hom behoorlik met ‘n handdoek af, veral onder die maag, by die oksels en agter die ore waar vog maklik vasgevang word.
Gereelde borsel help om dooie hare en vuiligheid te verwyder en laat lug beter deur die pels beweeg. Dit help die vel om gesond en droog te bly. Vlooie kan ook velprobleme vererger omdat troeteldiere meer krap en byt aan hul vel.
Let op vir tekens soos aanhoudende lek, haarverlies, rooi kolle, nat wonde of ‘n slegte reuk. Hoe vroeër ‘n probleem raakgesien word, hoe makliker is dit om te behandel.
Met ‘n warm, droë slaapplek en basiese daaglikse sorg kan baie pynlike velprobleme hierdie winter voorkom word. Soms maak eenvoudige dinge, soos ‘n droë kombers en skoon pote, die grootste verskil.





