VREDENDAL – Die dorp en omgewing van Vredendal is hard getref deur verlede week se oorstromings as gevolg van stormweer.

Met die Olifantsrivier wat so vol was dat damsluise oopgestel moes word, het die Wes-Kaapse Departement van Infrastruktuur die Vredendal-brug as onveilig verklaar.

Volgens Deoné Wessels, bestuurder van strategiese dienste vir die Matzikama-munisipaliteit, word die brug môreoggend (Dinsdag 19 Mei) oopgemaak, maar slegs vir voetgangers. Die proses bly onderhewig aan finale assesserings en goedkeuring.

“Lede van die publiek word aangeraai om die munisipaliteit se amptelike sosiale mediaplatforms te bly monitor, waar ‘n verdere opdatering later vanmiddag vrygestel sal word. Op hierdie stadium bly die brug gesluit vir alle voertuigverkeer tot verdere kennisgewing,” voeg Wessels by.

In die huidelige situasie bly die Vredendal-hospitaal, klinieke, nooddienste en ander noodsaaklike ondersteuningsdienste operasioneel en toeganklik via alternatiewe roetes. Verkeersbestuur- en noodkoördineringsmaatreëls bly in plek om voortgesette toegang tot kritieke dienste te verseker.

Wessels meen padgebruikers wat vanaf die N7 reis, kan die TR01601-roete na Vredendal-Noord gebruik en dan regs draai op die Holrivierpad (MR552) na Lutzville. Van daar af kan die MR00547 gebruik word om toegang tot Vredendal-Suid te verkry. Dieselfde roetereëling geld vir reisigers wat vanaf Vanrhynsdorp na Vredendal kom. Hierdie roetes word tans gebruik vir algemene verkeer, insluitend nood- en ondersteuningsdienste.

“Die munisipaliteit bly in deurlopende kontak met die Weskus-distriksmunisipaliteit se rampbestuurseenheid sowel as die Provinsiale rampbestuursdepartement om rampreaksie en ondersteuningsmaatreëls vir geaffekteerde inwoners en gemeenskappe te koördineer.”

Alhoewel die pad vir voetgangertoegang moontlik sal wees, sal toegang vir alle voertuie gesluit bly totdat verdere instruksies en klaring van die Provinsiale Departement van Infrastruktuur ontvang word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 14 May 2026
    Weslander E-Edition – 14 May 2026

Gift this article