Evan Lategan (Vredendal) maak gebruik van ‘n driepoot-skietstok.

Skuts van Weskus vaar skitterend


Die Weskusdistrik-jaggeweer-skietvereniging het vanjaar uitstekend gevaar, met twee skuts wat vir SA presidentspanne gekies is en nege lede wat distrikskleure ontvang het.

Evan Lategan van Vredendal is in Mei by die SA Top-50 Ope-klas in Joubertina in die Oos-Kaap as Skut 3 vir die SA Presidentspan aangewys.

Dit volg nadat Barend Verster van Jacobsbaai vroeër vanjaar as Reserwe 1 vir die SA Presidentspan in die .22LR-klas gekies is tydens die Top 50- en Top 30-kompetisies in Delareyville.

Volgens die voorsitter, Wouter Basson, is uitnodigings na dié kompetisies ‘n groot eer aangesien net die land se beste skuts genooi word om vir President- en Protea-kleure mee te ding.

Hy sê die kompetisies plaas skuts onder groot druk, met uitdagende toestande soos wind en reën wat hul vaardighede toets.

Nege van die distrik se 12 skuts het vanjaar amptelik ­distrikskleure ontvang en is genooi om die Weskus by nasionale kompetisies te verteenwoordig.

Drie skuts, naamlik Barend Verster, Sanet Verster en Basson, het toekennings in al drie klasse ontvang: .22LR, 223-kaliber en Ope-klas.

Barend Verster
Barend Verster van Jacobsbaai skiet hier met die .22LR van ‘n grensdraad-hoekpaal.

Die ander ses skuts het elkeen in een klas presteer.

Die SA Jaggeweer-skietvereniging is in die vroeë 1990’s gestig en bied veldskietkompetisies aan wat werklike jagomstandighede naboots.

Tydens kompetisies word verskillende skietposisies en teikens gebruik om jagtoestande so realisties moontlik te maak.

Die Weskus-distrik is in Maart 2024 gestig en strek van Malmesbury tot Vanrhynsdorp en Nieuwoudtville. Dorpe soos Langebaan, Saldanha, Vredenburg, Velddrif, Clanwilliam en Vredendal vorm deel van die streek.

Die vereniging bied op 29 Augustus ‘n Ope-skietkompetisie op Swartbergvlei-plaas naby Yzerfontein aan.

‘n Gekombineerde .22LR- en 223-kaliber-kompetisie volg op 5 September.

Belangstellendes kan Wouter Basson by 078 121 8195 kontak of www.sahuntingrifle.co.za besoek vir meer inligting.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 4 June 2026
    Weslander E-Edition – 4 June 2026

Gift this article