Lede van die Rio Grappling Club West Coast het uitstekende uitslae tydens die Martial Arts South Africa-kampioenskap behaal, wat die afgelope naweek in Pretoria gehou is.
Vyf klublede is gekies om die Westelike Provinsie te verteenwoordig en teen die land se beste vegkunstenaars mee te ding.
Hulle is Rogan van den Bergh, Caden van den Bergh, Hanru Viljoen, Anuschka Anderson en CamRon Abrahams.
Volgens die klub moes Caden van den Bergh ongelukkig aan die kampioenskap onttrek nadat hy vir die o.13 Wes-Boland-rugbyspan gekies en as kaptein aangewys is (berig op bl. 15). Die span se oefenkamp in Bloemfontein het met die datums van die kampioenskap gebots.
Die oorblywende spanlede het egter sterk vertonings gelewer en verskeie medaljes verower.
Rogan van den Bergh, wat slegs 10 jaar oud is en steeds deel van die klub se junior groep vorm, het ‘n silwermedalje in NoGi gewen voordat hy weens ‘n besering aan die res van die kompetisie moes onttrek. Ondanks sy jong ouderdom oefen hy saam met die senior groep en is hy volgens die klub bekend vir sy deursettingsvermoë.
Hanru Viljoen het ‘n goue medalje in Gi en ‘n silwermedalje in NoGi verower. Hy het onlangs ook sy volwasse blou gordel van professor Roberto Atalla van Brasilië ontvang – net drie weke ná sy sestiende verjaardag. Hoewel dit nie ongewoon is om op 16-jarige ouderdom ‘n blou gordel te ontvang nie, is dit volgens die klub ‘n seldsame prestasie in Suid-Afrika. Hanru beoefen reeds sedert die ouderdom van ses gevegskuns.
Anuschka Anderson het uitstekend gevaar deur goud in beide Gi en NoGi te wen. Hoewel sy eers ‘n paar maande by die klub is, sê die afrigters haar harde werk, gereelde deelname aan kompetisies en ekstra oefensessies het reeds vrugte afgewerp.
Dawid skrik nie vir goliat
CamRon Abrahams het brons in Gi en brons in NoGi gewen nadat hy in ‘n besonder sterk gewigsklas meegeding het. Met ‘n gewig van 83 kg het hy teen teenstanders van meer as 100 kg geveg. Volgens die klub het sy uitstekende tegniek hom in staat gestel om steeds podiumplekke te behaal.
Benewens sy deelname aan kompetisies deel Abrahams ook elke tweede Woensdag sy kennis van Jiu Jitsu met die IRI-rugbyspan, waarmee die klub reeds die afgelope twee jaar saamwerk. Die hoofafrigter van IRI, Danie de Villiers, sluit jiu jitsu as deel van die span se oefenprogram in om spelers se bewegings en tegniek op die rugbyveld te verbeter.
Die span is tydens die kampioenskap deur die afrigter Hanneke Viljoen begelei. Volgens die klub is haar passie vir die sport en haar toewyding aan die ontwikkeling van atlete tydens elke kompetisie duidelik sigbaar.
Die klub sê die uitslae bevestig die groot hoeveelheid vegskunstalent aan die Weskus en beklemtoon Rio Grappling Club West Coast se groeiende reputasie as een van die voorste vegskunsklubs in die streek.
Die klub bedank ook vir Pearly’s restaurant vir sy bydrae en hulp.





