Elma Vertue saam met Magda Deysel. Foto:Letitia Van Zyl-Schultz

Dameskring leer oor brein


Lede van die Weskus-dameskring het verlede Dinsdag (26 Mei) by Togryersvlei in Jacobsbaai vir hul maandelikse vergadering byeengekom, nadat die vorige byeenkoms op 12 Mei weens reën en stormweer uitgestel moes word.

Nadat die voorsitter, Magda Deysel, almal verwelkom het, is die gasspreker, Elma Vertue, aan die woord gestel.

Vertue is ‘n motiveringspreker en voorstander van breingesondheid en seniorwelstand. Sy is betrokke by Grey Matters, ‘n platform wat fokus op breingesondheid, aktiewe veroudering en lewenskwaliteit. Sy is ook verbonde aan die South African Seniors Fitness Association (SASFA).

Volgens Vertue dui bevindings van die Wêreldgesondheidsorganisasie daarop dat daar tans meer mense ouer as 65 jaar as kinders jonger as vyf jaar is, en die senior generasie van vandag kan gemiddeld sowat 30 jaar langer as vorige geslagte leef.

Sy het gesê elke mens het ‘n keuse oor die kwaliteit van lewe wat hulle wil leef.

“Ons het nie net vyf sintuie nie, ons het ses. Jou sesde sintuig is jou sin van beweging,” het sy verduidelik.

Volgens haar “prop” elke sintuig by die brein in en wanneer ‘n sintuig verswak, ontvang die brein minder boodskappe. Daarom is dit belangrik om al die sintuie daagliks te stimuleer.

Vertue het dié beginsel prakties gedemonstreer deur musiek te speel terwyl die dames, sittend op hul stoele, hande moes klap en voete op die ritme beweeg. Praktiese wenke:

◘ Ruik daagliks aan verskillende geure (geheuefunksie);

◘ Vat aan verskillende teksture soos sponsies, lappies en borsels (velfunksie);

◘ Masseer die liggaam met geurige produkte of essensiële olies (reuk-en tasfinksie); en

◘ Rol ‘n tennisbal onder die voete, veral wanneer jy lank sit (beweging).

“Moet nooit ophou beweeg nie.”

Dames word gewys hoe om sintuie te stimuleer
Dames word gewys hoe om sintuie te stimuleer.

Deysel het die dames bedank vir hul diensbaarheid en hul bydrae van sopbestanddele wat geskenk is aan Solidariteit Helpende Hand se sop-en-brood-uitreiking verlede Donderdag (28 Mei). Lede is ook aangemoedig om voort te gaan met die jaar se “liggieprojek”-geldinsameling: tel die getal gloeilampe in jou huis, vermenigvuldig dit met vyf, en skenk daardie bedrag.

Elize Boshoff het ‘n oorsig gegee van die Waarde-projek, gefokus om kinders op ‘n praktiese wyse waardes en Christelike beginsels te leer.

Leonie de Beer, sekretaresse, het aan die dames “Sakgebed-kwiltpakkies” met inspirerende boodskappe van liefde en waardering uitgedeel. Die pakkies kan onder meer by hospitale uitgedeel word.

Deysel het die vergadering afgesluit en gaste aangemoedig om by die Weskus-dameskring aan te sluit.

Kontak Leonie de Beer by 082 872 8230 vir nog inligting en om aan te sluit.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 4 June 2026
    Weslander E-Edition – 4 June 2026

Gift this article