Voorgestelde soutmynuitbreiding laat vrae oor Velddrif se rivier en natuur

Voorgestelde soutmyn-uitbreiding in Velddrif

Voorgestelde soutmynuitbreiding laat vrae oor Velddrif se rivier en natuur


VELDDRIF – Inwoners is bekommerd oor ’n voorgestelde wysiging aan Unisalt se bestaande soutmynreg in die omgewing en die moontlike uitwerking daarvan op die Bergrivier, vleilande, voëllewe en die dorp se toekomstige ontwikkeling.

Die kommer het Weslander genoop om die aansoek en die moontlike omvang van die voorgestelde uitbreiding op te volg.

Die gemeenskap het tot Maandag 24 Augustus om as belanghebbende en geaffekteerde partye (I&AP’s) te registreer en aan die openbare deelnameproses deel te neem.

Volgens ’n openbare kennisgewing het Unisalt (Pty) Ltd ingevolge Artikel 102 van die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne aansoek gedoen om sy bestaande mynreg te wysig. Die proses sluit ’n omgewingsimpakbepaling en omgewingsbestuursprogram in.

Unisalt is die houer van die bestaande mynreg vir die ontginning van seesout, terwyl Cape Salt Company die bedryfsmaatskappy is. Volgens Cape Salt is die mynreg en bedrywighede omstreeks 2020 van Cerebos oorgeneem.

Sementblokke wat volgens Fourie in die rivier agtergelaat is.
Sementblokke wat volgens Fourie in die rivier agtergelaat is. Foto: Aubrey Fourie

Die voorgestelde wysiging behels die verwydering van ongeveer 4,5 hektaar uit die bestaande mynreggebied en die toevoeging van ongeveer 4,7 hektaar.

Cape Salt sê die bykomende grond sal as ’n kristalliseerdergebied gebruik word. Die grond sal voorberei en met water bedek word as deel van die soutproduksieproses. Volgens die onderneming lê die gebied aan die verste kant van die bestaande soutmyn en die Bergrivier en is dit tans vir landbougebruik gesoneer.

Die onderneming sê onafhanklike omgewingskonsultante is aangestel om die nodige omgewings- en spesialisstudies uit te voer. Cape Salt beskryf die voorgestelde uitbreiding as relatief klein, maar sê dit kan moontlik die laaste beskikbare bruikbare grond vir verdere soutproduksie in die gebied wees.

Vir bekommerde inwoners gaan die kwessie egter oor meer as die grootte van die voorgestelde uitbreiding.

Plaaslike inwoner Aubrey Fourie sê die Bergrivier, vleilande en voëllewe is ’n belangrike deel van wat Velddrif besonders maak. Hy meen enige verdere ontwikkeling moet deeglik ondersoek word om die moontlike uitwerking daarvan op die rivier se ekosisteem en voëllewe te bepaal.

Fourie, wat naby die soutmyn woon, sê hy is ook bekommerd oor die invloed van die bedrywighede op inwoners se leefomgewing. “Ek het nie hier eiendom gekoop met die vooruitsig dat hierdie bedrywighede verder uitgebrei sou word nie,” sê hy.

Hy meen die soutbedrywighede by die ingang van Velddrif het reeds ’n sigbare invloed op die dorp en is bekommerd dat verdere uitbreiding die dorp se karakter, investering en toekomstige ontwikkeling kan beïnvloed.

Fourie verwys ook na wat hy beskryf as sementblokke wat in die rivier agtergelaat is, asook hoë walle wat volgens hom onnatuurlik voorkom.

Cape Salt het op die bekommernisse gereageer en gesê die beskerming van die Bergrivier vorm ’n belangrike deel van sy omgewingsbestuur. Volgens die onderneming word walle rondom soutpanne met hoë soutkonsentrasies in stand gehou om te voorkom dat gekonsentreerde soutwater in die rivier beland.

Die onderneming sê die gebied huisves ook verskeie voëlspesies, waaronder skaars spesies, en dat bewaring deel van sy omgewingsbenadering is.

Cape Salt sê groot volumes water uit die Bergrivier het onlangs op plekke die aanleg binnegedring en skade veroorsaak, maar dat voorkomende werk verhoed het dat soutpanwalle gebreek het en soutwater in die rivier beland het.

Volgens Cape Salt is die onderneming sedert die oorneming van die bedrywighede ook verantwoordelik vir ongeveer 90 addisionele plaaslike werksgeleenthede. Die onderneming sê dit bly onderhewig aan regulatoriese vereistes, waaronder omgewingsoudits, inspeksies en omgewingsbestuursprogramme.

Die Velddrif-sakekamer het intussen ook by die kwessie betrokke geraak nadat hy die onderneming genader het vir meer inligting oor die aansoek.

Die Sakekamer sê inwoners het die reg om vrae te vra en bekommernisse oor omgewings- en ontwikkelingsaansoeke te opper. Dit moedig inwoners aan om die beskikbare dokumentasie te bestudeer en hul insette deur die formele openbare deelnameproses te lewer.

Die Bergrivier-munisipaliteit het in ’n skriftelike antwoord aan Weslander op 21 Augustus bevestig dat sy beampte vir omgewingsbeplanning en -bestuur informeel, deur ’n lid van die publiek, van die voorgestelde wysiging bewus geword het.

Volgens die munisipaliteit word die aansoek deur die toepaslike provinsiale en nasionale owerhede hanteer. Die beoordeling van die omgewingsimpak val binne die mandaat van die departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning en die departement van minerale en petroleumhulpbronne.

Die munisipaliteit het dus nie ’n afsonderlike omgewingsimpakbepaling gedoen nie, maar sal deur die statutêre proses as kommentaarowerheid insette lewer.

’n Wysiging aan die bestaande munisipale grondgebruikgoedkeuring sal volgens die munisipaliteit nodig wees indien die uitbreiding voortgaan. Geen sodanige grondgebruiksaansoek is egter nog ontvang nie.

Indien dit ingedien word, sal dit ’n afsonderlike openbare deelnameproses ingevolge die toepaslike munisipale beplanningswetgewing behels.

Vir inwoners wat tans bekommerd is oor die voorgestelde uitbreiding, is die onmiddellike geleentheid om aan die omgewingsproses deel te neem.

Die openbare kennisgewing nooi belanghebbendes en geaffekteerde partye om hul naam, kontakbesonderhede en aard van belangstelling te registreer.

Die sperdatum vir registrasie is Maandag 24 Augustus 2026.

’n Konsep-omvangverslag sal volgens die kennisgewing vir openbare beoordeling beskikbaar gestel word. Die omgewingskonsultante is Milnex CC. Navrae kan aan Lizanne Esterhuizen of Christiaan Baron by lizanne@milnex-sa.co.za of christiaan@milnex-sa.co.za gerig word.

Die Sakekamer sê sy betrokkenheid is nie om namens die formele omgewingsproses oor die aansoek te besluit nie, maar om inwoners van inligting te voorsien.

Vir die inwoners wat Weslander genader het, is die belangrikste vraag nou of die moontlike uitbreiding se uitwerking op Velddrif se natuurlike omgewing en toekomstige ontwikkeling voldoende ondersoek sal word voordat enige besluit geneem word.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 20 August 2026
    Weslander E-Edition – 20 August 2026

Gift this article