MOORREESBURG – Altesaam 21 jong meisies het van Sondag 27 September tot Saterdag 3 Oktober aan die Oedasoa Cochoqua Khoi-koninkryk se Hokmeisie-inisiasieprogram deelgeneem, waar hulle vir sewe dae lank in hul kulturele erfenis onderrig en op volwassenheid voorberei is.
Volgens Enolium Joseph plaas die Oedasoa Cochoqua Khoi-gemeenskap besondere klem op die ontwikkeling van vroue, aangesien die Khoi-nasie ‘n matriargale gemeenskap is waarin die inisiasie van jong vroue ‘n belangrike plek inneem.
Meisies tussen die ouderdomme van 12 en 16 jaar wat reeds begin menstrueer het, kom vir die inisiasie in aanmerking.
Die meisies is vir die duur van die program in ‘n afgeslote perseel in Moorreesburg gehuisves, waar hulle onderrig in die Khoi-kultuur ontvang het van vroue wat hulle ook voorberei het op die verantwoordelikhede en uitdagings van volwassenheid.
“Die Khoi-nasie is ‘n matriargale groep en die inisiasie van ‘n jong vrou geniet voorrang in die gemeenskap,” sê Joseph.
Benewens kulturele onderrig het die meisies ook leiding van besoekende sielkundiges en vroulike mediese personeel ontvang.
Vyf versorgers het gedurende die program na die meisies omgesien. In ooreenstemming met die kulturele gebruike is mans streng verbied om die perseel te btree waar die meisies en versorgers gehuisves is.
Vier mans het elke aand buite die perseel ‘n vreugdevuur gemaak om die veiligheid van die vroue en meisies te help verseker. Die program is met ‘n feestelike geleentheid afgesluit. Die meisies het pragtige tradisionele Khoisan-drag gedra wat deur die Oedasoa Cochoqua-koninkryk aan hulle voorsien is.
Onder die genooide sprekers by die afsluiting was Khoebaha Neil Oedasoa Ackers (senior opperhoof), die bekende Khoi-skrywer dr. Rubin Richards en die sakeman André Truter.
Die program het die belangrikheid van kulturele opvoeding, die behoud van tradisies en die voorbereiding van jong vroue op volwassenheid beklemtoon.
LEES OOK: Weskussers staan vir erfenis




