VELDDRIF – Soms neem die lewe ‘n mens op paaie wat jy nooit beplan het nie. Vir Marthie Potgieter het dié pad begin met ‘n besoek aan die Weskus en ‘n ou plank waarop ‘n lighuis geverf was.
Marthie en haar gesin, wat destyds van Gauteng na Mosselbaai verhuis het, het in 2005 die eerste keer deur die Weskus getoer. Hulle het op ‘n Saterdag in Laaiplek stilgehou. By die hawe was daar destyds ‘n ou soutfabriek waar vis gesout is, ‘n geskenkwinkel bekend as die Lighuis en ‘n rommelwinkel met ‘n tafel vol allerhande ou goed. Dit is hier waar Marthie die plank met die geverfde lighuis gekoop het.
“Ek het toe al gesê – die Lighuis gaan eendag myne wees,” vertel sy.
Twintig jaar later is sy en haar gesin se verhaal nou met dieselfde plek verweef, maar die pad daarheen was allesbehalwe reguit.
Marthie het 30 jaar lank by ‘n mediese laboratorium gewerk, terwyl haar man, Paul, 25 jaar by Absa gewerk het. Albei het in Desember 2020 covid opgedoen. “Ons was baie siek; amper dood,” sê sy. Sy het ook kollegas weens die siekte verloor. Toe dit tyd word om terug te keer werk toe, het sy besef sy kon nie weer vir lank in dieselfde omstandighede funksioneer nie. “Ek het vir my man gesê ek kan nie weer in daai situasie ingaan nie.”
Bid vir uitweg
Paul het gebid dat hulle ‘n uitweg sou kry. Dit was Februarie 2021.
Marthie het reeds in 2015 begin skilder – ‘n droom wat sy lank gekoester het. Paul het haar kunswerke in kleiner produkte soos skinkborde, magnete en bekermatjie omgeskep. Wanneer sy nie op nagskof was nie, het hulle die produkte by markte verkoop. Elke sent is gespaar vir ‘n aftreehuis wat hulle in Agulhas wou bou.
Van Marthie se handgemaakte produkte is ook by die Lighuis verkoop. Toe ontvang Paul ‘n oproep van die destydse eienaar, wat laat weet het dat nog voorraad benodig word omdat die produkte goed verkoop.
Toe Marthie daar aankom, hoor sy die eienaar oorweeg om die onderneming te verkoop. ‘n Paar dae later het ‘n oproep met die verkoopprys gevolg. Dit was presies die bedrag wat hulle vir hul huis in Agulhas gespaar het.
“Dit was ‘n geskenk van Bo,” sê Marthie.
Binne twee weke was die kontrak onderteken en haar bedanking ingedien. Op 1 Maart 2021 het hulle die onderneming oorgeneem. Sy was toe 54 jaar oud.
Van roomys tot toebroodjies
Omstreeks dieselfde tyd het die werktuigkundige in die aangrensende perseel ná 17 jaar besluit om af te tree. Die Potgieters het ook dié perseel oorgeneem – aanvanklik sonder ‘n vaste plan daarvoor.
Van werkswinkel na roomys
Paul, wat ‘n besondere liefde vir roomys het, het besluit om ‘n roomyswinkel te begin. Hy het self met geure en kombinasies begin eksperimenteer.
Die eerste roomysmasjien het op 1 September 2021 aangekom, gevolg deur ‘n tweede in November. Wat aanvanklik op roomys en pannekoek gefokus het, het mettertyd uitgebrei.
Vissermanne het begin vra of toebroodjies nie ook beskikbaar is nie, en so het die spyskaart geleidelik gegroei. Die onderneming het intussen twee keer uitgebrei.
Vir Marthie is die verhaal een van ‘n loopbaanverandering én van mense wat hul kreatiwiteit in iets tasbaars omgeskep het. Sy werk met ongeveer 30 mense uit die omgewing, wat handgemaakte artikels vervaardig. Vir sommige het dit as ‘n stokperdjie begin, maar mettertyd het dit tot kleiner ondernemings ontwikkel.
Haar dogter, Leani, het vier en ‘n half jaar gelede by haar aangesluit nadat sy agt jaar lank ‘n hotel bestuur het.
“Eers het ek gewonder hoe ek haar gaan bekostig. Nou weet ek ek kan dit nie sonder haar doen nie,” sê Marthie.
Leani behartig die dekor en dra by tot nuwe idees. Sy en Paul het ook self aan die verbouings gewerk. “Ek is meer agter die skerms. Sy is die gesig van die winkel,” sê Marthie.
Vir Leani was die skuif na die Weskus ook ‘n persoonlike keerpunt. “Jy kom op ‘n punt in jou lewe waar jy weet jy moet nou huis toe kom.”
‘n Tafel waar almal welkom is
Tussen die twee ondernemings staan ‘n tafel, wat die gesin die familietafel noem. Volgens Marthie is dit eintlik te klein vir die groepe wat soms daar byeenkom. Wanneer daar nie genoeg plek is nie, sit vreemdelinge sommer saam.
Vir Paul is dit ‘n eenvoudige beginsel wat die manier waarop hulle mense ontvang, bepaal. “Dit maak nie saak wie jy is, wat jy dra of waarin jy ry nie. Die oomblik as jy jou voete hier sit, is jy ‘n BBP.”
Die Potgieters praat openlik oor hul geloof en die rol wat gebed in hul besluitneming gespeel het. Hulle verwys graag na Psalm 127:1: “As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk dié wat daaraan bou.”
Die geld wat vir ‘n aftreehuis bedoel was, het uiteindelik ‘n ander bestemming gekry. ‘n Ou plank met ‘n lighuis daarop het die begin geword van ‘n onverwagte nuwe hoofstuk.
En die plek waarvan Marthie jare tevore gesê het eendag hare sou wees, het uiteindelik deel van haar lewensverhaal geword.
LEES OOK: Visseisoen met hawediens ingelui



