Om jouself beskikbaar te stel as kandidaat vir ‘n politieke party, beteken jy staan nie langer op die kantlyn en hou dop hoe die spektakel op ‘n veilige afstand afspeel nie. Jy word deel van die sirkus wat ons “demokrasie” noem.
Daarby is jou privaatheid nie meer heeltemal jou eie nie.
Die wet maak wel ‘n onderskeid tussen die reg op privaatheid van ‘n gewone burger, wat rustig op sy sitkamerbank sit, en dié van iemand wat homself as openbare figuur aanbied.
Met ‘n openbare amp kom ‘n openbare verantwoordbaarheid.
Dit beteken nie ‘n politikus se hele lewe is skielik oop vir ondersoek nie, maar waar persoonlike inligting relevant is tot sy geskiktheid om die publiek te verteenwoordig, kan hy nie bloot agter die skild van privaatheid wegkruip nie.
‘n Kandidaat kan ook nie sy CV mooier maak as wat dit is en dan verwag dat niemand vrae daaroor sal stel nie.
Dieselfde geld vir bedrieglike optrede, soos om onder ‘n skuilnaam ander partye en kandidate met ongegronde bewerings te belaster.
Dink byvoorbeeld aan ‘n kandidaat wat hom- of haarself valslik daarop roem om voorsate te hê uit ‘n spesifieke deel van die gemeenskap ter wille van aanklank by ‘n sekere groep kiesers.
Kiesers het die reg om te weet wie die werklike kandidaat op die stembrief is.
Politiek is immers nie ‘n private sitkamer nie.
Dit is ‘n openbare verhoog.
LEES OOK: Hoe sou jou manifes lyk




