VREDENDAL – ‘n 35-jarige man is sewe jaar gevangenisstraf opgelê nadat hy aan dwelmhandel skuldig bevind is.
Abe Africa is Dinsdag 6 Oktober in die Vanrhynsdorp-landdroshof skuldig bevind aan die oortreding van artikel 5(b) van die Wet op Dwelmmiddels en Dwelmsmokkelary, Wet 140 van 1992.
Vier jaar van die sewe jaar gevangenisstraf is vir vyf jaar opgeskort, met voorwaardes.
Volgens Thembakazi Mpendukana, ‘n polisiewoordvoerder, is Africa aanvanklik op 23 April 2021 in Vredendal in hegtenis geneem nadat lede van die provinsiale georganiseerde misdaadondersoekeenheid (OCI) se narkotika-afdeling ‘n voertuig by ‘n vulstasie deursoek het.
Volgens die polisie is 997 Mandrax-tablette in ‘n sak agter die bestuurder se sitplek gevind.
Africa het destyds in die hof verskyn, maar het in Desember 2021 opgehou om hof toe te kom. ‘n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is gevolglik uitgereik.
Hy is op Vrydag 7 Augustus vanjaar in De Aar in hegtenis geneem. Hy het op Maandag 10 Augustus in die hof verskyn en is aangehou totdat die saak op 6 Oktober afgehandel is.
Die Wes-Kaapse provinsiale kommissaris, luitenant-generaal Sizakhele Dyantyi, het die ondersoekbeampte, AO J.R. Williams, en lede van die provinsiale OCI se narkotika-afdeling in Vredendal, vir hul volgehoue werk geprys. “Die beamptes het onvermoeid en met toewyding gewerk om te verseker dat geregtigheid geskied,” het Dyantyi gesê.
LEES OOK: Polisie vind dwelms van R1 m.





