David Rossouw
Jong ringbalspelers van Atlantis maak gereed om Kaapstad by die Nasionale Skole Ringbalunie-toernooi in Limpopo hierdie Oktober te verteenwoordig.
Die span bestaan uit leerders van verskeie plaaslike skole en vorm deel van die Kaapstad Skole Ringbalspan, ‘n trotse tradisie wat nou al tien jaar bestaan.
Al is ringbal een van die 16 priori- teitsportsoorte, ontvang die span geen formele finansiering nie.
Elke kind het dus R6 190 nodig om deel te neem, wat verblyf, etes, vervoer en spanuitrusting insluit – ‘n bedrag wat vir baie gesinne buite bereik is.
Johan van der Berg, die afrigter, wat ringbal al langer as ‘n dekade in Atlantis bevorder, sê vervoer is die grootste uitdaging. “Sommige kinders kan nie eens bekostig om by oefening uit te kom nie.
“Ek ry hulle dikwels self rond. ‘n Enkele spanrit na die MPC kan tussen R400 en R500 kos,” verduidelik hy.
Ten spyte van hierdie struikelblokke
floreer die program danksy gemeenskapsteun. Onderwysers skenk skoene, ouers help met etes en plaaslike sakelui borg toerusting.
Verlede jaar het 13 Atlantis-leerders medaljes gewen en verskeie is vir die Suid-Afrikaanse Ringbalspan gekies. Laerskole soos Grosvenor, Hermes, Kerria, Saxonsea, Wesfleur en Porteapark, saam met die vier hoërskole Atlantis, Robinvale, Proteus en Saxonsea, het ringbalvestings geword. Atlantis-atlete het ook by die senior toernooi in Julie in veral die o.23-afdeling goud gewen.
Johan glo ringbal is meer as net ‘n sport – dis ‘n lewenslyn.
“Ons bou leiers, nie net spelers nie,” sê hy. Vir baie kinders uit agtergeblewe omstandighede bied ringbal struktuur,
trots en geleenthede.
Namate Atlantis hom vir die nasionale verhoog voorberei, word die oproep vir ondersteuning al harder. Elke bydrae help om te verseker dat geen kind agtergelaat word nie.
• Kontak Johan van der Berg per
e-pos by johan@gracestaffing.co.za vir nog inligting of om steun te bied,





